Meer as twee jaar ná die opspraakwekkende gru-moorde op die Brand-gesinslede van Hartswater, het die staat Maandag (05/09) in ‘n verrassende wending al die aanklagte teen een van die vyf aangeklaagdes teruggetrek.
Dié skuif het ‘n fladdering deur die hooggeregshofsaal in Kimberley gestuur en die ander verdagtes en hul regsverteenwoordigers skynbaar onkant gevang.
Die verdwyning van Dan (83), Breggie (79) en hul dogter Elzabie (54), en hul moord aan die einde van Julie 2020 het met optogte teen plaasaanvalle by die hof in Hartswater gepaard gegaan waar die verdagtes ná hul inhegtenisname verskyn het. Landbouleiers en inwoners het hul misnoeë oor die moord en misdaad uitgespreek.
Die beskuldigdes is almal van buurtes van Taung afkomstig. Donald Seoleseng (21) en Tshepo Visagie (36), albei van Majaneng; Kgomotso Mpulwana (43) van Rooivaal; en Tsepaone Melato (20) van Pudimoe, word aangekla van drie aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede, drie aanklagte van ontvoering en drie aanklagte van regsverydeling. Seoleseng word ook van ontsnapping aangekla.
Die aanklagtes teen Realeboga Manyedi (20) van Takaneng is teruggetrek, wat deur Pierre Fourie van Regshulp Suid-Afrika verteenwoordig is.
Die Brand-gesin is die laaste keer op 26 Julie omstreeks 12:00 by hul huis opgemerk. Die volgende dag het ‘n familievriend hulle as vermis aangemeld en opgemerk dat hul twee voertuie, ‘n rooi Nissan Micra en ‘n silwer Mazda 5, weg is. Die polisie het ‘n grootskaalse soektog begin en later daardie dag op die Nissan met ‘n beskadigde wiel by ‘n gruisgroef in Majaneng, Taung, afgekom.
Gedurende die nag van 27 en 28 Julie 2020 het die polisie die Mazda 5 met vyf insittendes op die N12 opgemerk waar dit in die rigting van Vryburg gery het.
Visagie, wat bestuur het, het glo uitgeklim en weggehardloop. Mpulwana het agter die stuurwiel ingeklim. Die ander insittendes was Seoleseng, Manyedi en Melato. Mpulwana is in besit van Breggie se selfoon gevind. Seoleseng is geboei en agterin die vangwa gesit, maar het ontsnap terwyl die polisie nog na die Brands gesoek het. (Hy is later weer aangekeer.)
Die slagoffers se lyke is op 29 Julie op verskillende plekke in ‘n onbewoonde gebied by Diretseleng in Taung gevind. Hulle was vasgebind. Dan is met ‘n stomp voorwerp, en Breggie met ‘n stomp en skerp voorwerp gedood, terwyl Elzabie verwurg is. Visagie is later dieselfde dag in hegtenis geneem en in besit van Breggie se pienk geheuestokkie gevind. Op 1 Augustus is Elzabie se handsak met haar persoonlike besittings en Breggie se skootrekenaar in Mpulwana se kamer gevind.
Die staat voer aan die aangeklaagdes het saamgewerk om die misdaad te pleeg.
Terwyl adv. Adele van Heerden, aanklaer, die aanklagtes teen die oorblywende beskuldigdes uitgelees het, het die Brand-egpaar se ander twee dogters, Heidi Taljaard en Trudie de Beer, in die galery hul trane afgevee.
Roelof van Wyk het toe namens Seoleseng gesê hy gaan nie op die aanklagte pleit nie alvorens hy weet of die staat ‘n verklaring van Manyedi afgeneem en of hy ‘n staatsgetuie gaan wees of nie.
Die ander regsverteenwoordigers, Celeste Nameka namens Mpulwana, Arnold Nel namens Melato, en Chande Booysen namens Visagie het saamgestem. Hulle het die staat daarvan beskuldig dat dit ‘n lokval was omdat hulle onbewus was van verwikkelinge.
Die aanklaer wou nie erken of ontken dat Manyedi ‘n verklaring afgelê en as staatsgetuie sal optree nie.
Waarnemende regter Cordelia Kgopa het die saak tot Dinsdag uitgestel.
Die vyf is sedert hul inhegtenisname in aanhouding.
- Intussen het Reinette Liebenberg, DA-LW wat in die hofsaal was, gesê sy is bly die DNS-resultate is beskikbaar.
“Die DA was by alle vorige hofverrigtinge en het druk op die polisie geplaas om die ontledings van die DNS-monsters by die nasionale forensiese wetenskap laboratorium te versnel. Die oponthoud met die ontledings het veroorsaak dat die verhoor voorheen telkemale uitgestel is.
“Ons hoop die verhoor sal sonder verdere onderbrekings voortgaan sodat familielede en die gemeenskap afsluiting kan kry oor ‘n voorval wat skokgolwe deur die gemeenskap gestuur het. Ons wens die familie sterkte toe.
“Volgens die jongste beskikbare data moet meer as 150 000 DNS-monsters landwyd nog verwerk word. Terwyl die DNS-uitslae in hierdie saak afgehandel is, is daar steeds geen hoop vir geregtigheid in ander uitstaande moord- en verkragtingsake nie.
“Die DA het onlangs hul stem dik gemaak teen die DNS-agterstand met ‘n optog op Vrouedag na die Kimberley-polisiekantoor waar ons ‘n griefskrif oorhandig het. Ons dring aan dat die agterstand in strafregtelike sake uitgewis word.
Ons pas druk toe op president Cyril Ramaphosa om Bheki Cele as minister van polisie af te dank, wat toegelaat het dat misdaad én DNS-agterstande buite beheer geraak het.”


