Twee jong sangers wat as “supergewild” en ’n “groot inspirasie” beskryf word, is onder die talle kunstenaars wat dié naweek op die Yonder Hartsfees in Kimberley optree.
Oud-Kimberliet Samantha Leonard en Dodo Nyoka, wat onderskeidelik die wenner en naaswenner van die sangkompetisie Die Kontrak se tweede seisoen is, het albei reeds ’n buiging op talle verhoë gemaak, en spog met verskeie eerbewyse.
Samantha en Dodo tree Vrydagaand (01/09) onderskeidelik om 20:00 en 21:00 by die Haakbosskerm op die terrein van die Yonder Hartsfees op.
Enige besoeker met ’n toegangskaartjie tot die feesterrein kan dié optredes bywoon, asook dié van ander kunstenaars, insluitend PJ Powers en die Soweto-gospelkoor, wat Saterdagaand optree.
Die derde Yonder Hartsfees, wat van Donderdag tot Sondag duur, is ’n fees vir die hele gesin.
“Die belangstelling in die fees is geweldig groot, en ons is baie opgewonde om dit weer vir die publiek aan te bied,” sê Jannie van Zyl, feesdirekteur.
Soos voorheen vind dit op Malu-park, feesterrein van Noord-Kaaplandse Geestesgesondheid in Kimdustria, plaas. Dit word ten bate van die Yonder-inwoners wat daagliks met ’n gestremdheid leef, aangebied.
Stalletjies, kunstenaars, ’n pretpark vir kinders, sportgeleenthede en meer sal besoekers ure lank vermaak. Parkering en toegangshekke tot die feesterrein is langs Hendrik van der Biljstraat.
Van Zyl het sy dank teenoor die Sol Plaatje-munisipaliteit uitgespreek wat die afdraai vanaf die N12 skoongemaak het, en wat ook die duikweg in Kenilworthweg meer toeganklik vir verkeer gemaak het.
Goedkoper familiepakkette is beskikbaar, en kaartjies kan ook aanlyn gekoop word. Vervoer na die terrein kan gereël word.
Die feesterrein maak van Donderdag tot Sondag sy hekke om 09:00 oop.
- Vir die volledige program, tye wanneer die talle kunstenaars optree, kaartjiepryse en meer, besoek Yonder Hartsfees op Facebook.
- NoordkaapBulletin is die gedruktemediaborg van die Yonder Hartsfees.


