Ds. Neels Loots van Pitstop saam met Marlize Hurter, bestuurder van die Jannie Roux-kampus, voor die Jannie Roux-kinder-en-jeugsorgsentrum in Barkly-Wes.

Foto: Verskaf Credit: SYSTEM

Motorfietsryers gaan meer as 2 000 km deur die Noord-Kaap op hul motorfietse aflê om dringend geld vir die Caritas-gemeenskapsfokus se Jannie Roux-kinder-en-jeugsorgsentrum in Barkly-Wes in te samel.

Hierdie insameling word van 29 Junie tot 9 Julie deur Pitstop in samewerking met Cloud Ministries en die Christian Motorcyclists Association (CMA) gedoen.

By die Jannie Roux-kampus word 85 kinders, van vyf tot 18 jaar oud, permanent versorg. Omdat dit ’n nie-winsgewende organisasie is, word daar op skenkings staatgemaak om kop bo water te hou. Boonop is die gebou waarin die kinders gehuisves word, baie oud en verg dit heelwat onderhoud.

Die eetkamervloer kort dringende aandag en die koste daaraan beloop ongeveer R200 000.

Volgens proponent Neels Loots van Pitstop het hy en medemotorfietsryers onlangs die kampus besoek en die nodigheid daarvan besef dat die geboue opgeknap moet word.

Hulle het saamgestem dat die eetkamer die hart van die kampus is. Volgens Loots is dit die plek waar die kinders saam eet, huiswerk doen en kuier.

Dit het die saadjie by hulle geplant om geld in te samel deur met hul motorfietse deur die provinsie te ry, en mense bewus te maak van die nood by die Jannie Roux Kinder- en Jeugsorgsentrum.

Loots sê vir slegs R250 kan ’n kaartjie gekoop word waarvoor die koper daarvan ’n kans staan om ’n 1 000cc-motorfiets te wen.

Die geld van die kaartjieverkope gaan vir die opknapping van die eetkamervloer gebruik word.

Kontak Loots by 060-320-3642, of stuur ’n e-pos na cloudministries@gmail.com.

Kaartjies is ook by quicket.co.za te koop. Dit kan opgespoor word deur “Pitstop Charity Run” in die soekbalk te tik. Pitstop Charity/events/212389-pitstop-charity-run/#/

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article