Philip Oliphant (24) saam met sy tante, Felicity, wat hy sy ma noem. Sy het hom grootgemaak nadat sy ma, Handjievol, dood is.

Foto: Anena Burger

Die blikkies wat Philip Oliphant in sy hande vashou, help met effekte soos wanneer ’n perd oor sand hardloop en stof opskop.

Klip, klop, klip, klop klink die galop van perdehoewe op klipperige grond, maar dit is nie ’n perd nie, dit is ’n mens wat bo die rooi Kalaharisand in die lug bokspring soos ’n wilde perd wat getem word.

Die tempo versnel en die “hoewe” skop sand en stof op, kompleet soos die majestueuse dier wat voorgestel word.

Vir ’n oomblik is dit te veel vir jou brein om te verwerk. Jy wéét jy kyk na ’n mens, maar die detail in elke beweging, die kop wat tot amper teen die torso ingetrek word, die postuur en daardie snork, is pure perd.

Philip Oliphant (24) is in sy element met ’n blikkie in elke hand waar hy soos ’n perd oor die duine van die plaas Smalvis hardloop. Al brand die son en pêrel die sweetdruppels aan sy voorkop, waai ’n windjie van sorgeloosheid deur sy wilde bos hare.

Hier, op die plaas op pad na Noenieput, is hy gelukkig. Tussen sy tien perde, die skape, die bokke en die twee jong verse wat binnekort gaan kalf.

Hier oordeel niemand hom nie; word hy aanvaar vir wie hy is.

Dan kom die blinkvosperd op sy agterpote orent en runnik met sy skoppende voorpote. Vir ’n oomblik sien jy die wilde maanhare. Die twee blikvoorpote plof weer in die sand neer en word gevolg deur twee kort snorke en ’n uitbarsting van skaterlag.

Skielik in die kollig

Vyf jaar gelede het Oliphant as tienerseun die inwoners van Upington op hol gehad toe hy handeviervoet saam met sy honde, Blacky en Sophie, deur die strate gehardloop het.

Dit was kort ná die dood van sy ouma Poppie, wat hom help grootmaak het. ’n Inwoner het ’n video opgeneem en dit op die sosiale media gelaai. Gou het dit gegons oor die vreemde “mensdier”.

Skinderstories

Sommige het geglo die mens is getoor en van demone besete. Of dalk was dit ’n dwelmslaaf wat sy laaste varkies verloor het.

Nog gerugte wou dit hê dat hy nie kon praat nie en deur honde grootgemaak is.

In die destydse koerantkantoor in Upington het die nuuskierigheid so geknaag dat die hele span in die motor gespring en gaan soek het. Ons het die video bestudeer en elke hoekie van die Morning Glory-woonbuurt deursoek, maar daar was geen teken van hom nie.

Teen die derde dag vind ek hom eindelik.

Maar die “mensdier” was ’n vriendelike seun wat geen probleem gehad het om sy storie te vertel nie. Met ’n groot glimlag wat die diep lagplooie om sy gesig laat vertrek, het hy my daardie dag oor sy liefde vir diere vertel.

Dit is dieselfde glimlag waarmee hy my vyf jaar later op Smalvis by die plaashek groet.

Hy was onbewus van die lelike aanmerkings op die sosiale media – iets wat in Oliphant se wêreld nie bestaan nie. Tog was hy nie onbewus van mense se oordeel nie.

Die feite

Oliphant is met fetale alkoholspektrumafwyking (Fasa) gebore omdat sy ma, Handjievol, ’n alkoholis was.

“Dit is ’n hartseerverhaal,” vertel Felicity, Oliphant se tante wat hom grootgemaak het nadat Handjievol dood is toe hy maar drie jaar oud was. Hy noem Felicity deesdae sy ma.

“Sy was ’n trotse, netjiese mens. My ouers het haar as kind aangeneem toe haar ma dood is.”

Sy kan nie Handjievol se doopname onthou nie.

“Sy het ’n sterk wil gehad en vandaar het sy haar noemnaam gekry. Sy was ’n handjievol,” sê Felicity.

“Handjievol is as jong meisie met die free taxi Kaap toe om huiswerk te gaan doen. Ons het drie jaar nie van haar gehoor nie.”

Op ’n dag het ’n familielid geskakel en gesê daar is fout. Handjievol was swanger. Sy het by ’n man gewoon wat haar mishandel en het pal gedrink.

“Ek onthou dié dag. My pa se bekommernis en hoe hy geld gestuur het sodat Handjievol huis toe kon kom.”

Maar dit was nie maklik nie. Die familielid moes Handjievol uit die kloue van haar mishandelaar red en in ’n taxi terug huis toe kry.

“Philip is drie maande later hier in die hospitaal gebore. Dit was ’n moeilike geboorte.”

Handjievol het later so verswak dat sy verlam geraak het en dood is.

“Alkoholisme is ’n vieslike ding. Sy is statig en mooi hier weg en sy het stukkend teruggekom. Handjievol was nooit weer dieselfde nie.”

Ouma Poppie

Oliphant kon weens leerprobleme slegs tot gr. 5 vorder. Ouma Poppie het besluit om hom plaas toe te neem, waar hy geblom het tussen die plaasdiere.

Dit is hier waar hy geleer het om sy geliefde diere, soos die perde, honde, skape, bokke en beeste, na te maak. Hy het die diere intens dopgehou en eendag twee blikkies opgetel om die klanke van die hoewe na te maak, maar ook om sy arms lengte te gee sodat hy die diere se voetstappe en ritme kon nadoen.

Ouma Poppie het hom geleer om te kook, na homself om te sien en die diere te versorg.

“Sy was sy rots. Hy het dit geweldig swaar geneem toe sy dood is.”

Felicity, ook ’n raadslid in die Dawid Kruiper-munisipaliteit, sê die dag toe Poppie dood is, kon Oliphant haar nie telefonies bereik nie.

“Hulle was op die plaas en ek in die raadsaal. Toe ek weer sien, hardloop Philip by die raadsaal in. Hy het 80 km van die plaas af tot in die dorp gehardloop.”

Uitdagings

Sy sê verskeie uitdagings staar Oliphant in die gesig weens Fasa.

“Ons neem hom gereeld na ’n sielkundige vir waarneming. Daar is bevind dat Philip die volwassenheid­ van ’n 12-jarige het.”

Al kan die vriendelike en innemende jong man goed praat en al is sy fyn motoriese bewegings goed ontwikkel, sal hy byvoorbeeld nooit sy eie geldsake kan hanteer nie.

“Hy besef ook nie wanneer hy verkeerd doen nie. En Philip kan nie jok nie.”

Felicity sê sy het al ’n paar benoude oomblikke beleef nadat die eerste video oor Oliphant geplaas is.

“Die kwaaddoeners het besef hulle kan Philip uitbuit. In een geval moes ek eendag plaas toe jaag toe ’n buurman laat weet daar staan ’n paar boere se vee by my op kraal.”

Sy het dadelik snuf in die neus gekry en haar plaas toe gehaas.

“Ek het die veediefstaleenheid ook laat kom.”

Daar gekom, het Oliphant vertel dat hy die vee vir mense aangejaag het wat aan hom gesê het hulle kom die vee haal.

“Toe ek hom vra wanneer dié mense die vee sou kom haal, het hy geantwoord: ‘12:00, Ma.’ ”

Die vermeende veediewe is daardie dag nog in hegtenis geneem en Oliphant was ’n staatsgetuie.

In nog ’n geval het hy onlangs in ’n winkel drie sjokolades geneem en dit begin eet. Hy is in hegtenis geneem en kon nie verstaan wat hy verkeerd gedoen het nie. Felicity moes R300 vir borgtog betaal.

“Ek sal nie weer so stout wees nie,” sê hy.

Die voorval is gou vergete wanneer hy eerder oor die twee jong verse praat.

“Ek is baie op my senuwees. Dit is hul eerste kallers. Ek moet hier op die plaas wees om seker te maak daar is nie fout wanneer hulle kalf nie.”

‘Moenie vir my bang wees nie’

“Ek wil nie hê mense moet vir my bang wees nie, want dan raak ek bang. Ek wil net hê mense moet lief wees vir mekaar.

“Ek sal niemand seermaak nie, Tannie. Ek kan nie eens vir my hond voertsek sê nie, want sy kyk vir my so snaaks en dan kry ek sommer seer,” vertel Oliphant.

Hy sê hy maak nie diere na om aandag te trek nie, maar hy hou daarvan as dit mense laat glimlag.

“Dit is my talent, die Here het dit vir my gegee.”

Dit is net hier waar hy altyd wil bly, op die plaas tussen sy diere wat hom verstaan.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article