Die oorledene, Jayson Afrique.

Foto: Verskaf

Met spontane, luide handeklap in die hofsaal en ’n gebrul van motorfietse buite die hofgebou in Kimberley, het ondersteuners van wyle Jayson Afrique, en sy vrou, Micayla, op Vrydag 4 Oktober hul tevredenheid getoon nadat John-Ross Henderson, die moordbeskuldigde, borgtog geweier is.

Henderson is op 20 September op aanklagte van moord en poging tot moord in hegtenis geneem ná ’n tweemaandelange ondersoek rakende die voorval in New Park op 31 Julie vanjaar.

Die skieter het na bewering vir Afrique en sy vrou ná 20:00 voor die sekuriteitshek van hul woonkompleks ingewag en tien skote na die passasierskant van hul voertuig afgevuur. Afrique, wat sy vrou met sy lyf probeer beskerm het, is vier keer in sy kop, arms en bolyf raakgeskiet. Hy het luidens die lykskouing 14 beserings gehad.

Sy geskokte vrou, wat geringe beserings opgedoen het, kon nie die skieter eien nie. Die staat het Henderson met die voorval verbind nadat sy selfoon, met sy vingerafdruk daarop, op die toneel gevind is. Hy het die volgende dag sy foon as gesteel aangemeld, maar die staat meen dit is ’n rookskerm vir sy betrokkenheid by die moord. Beeldmateriaal van die vulstasie waar die selfoon glo minder as twee ure ná die voorval “weggeraak” het, toon ander persone met wie Henderson interaksie het, en dat hy glo “doelloos” in die kafee rondloop sonder om iets te koop.

Uitsonderlike en buitengewone omstandighede nie bewys
Landdros G. Plaatje het in haar uitspraak bevind dat Henderson geen uitsonderlike en buitengewone omstandighede kon bewys wat sy vrylating op borgtog regverdig nie. Sy het gesê enige ander aangehoudene het net soos hy ook gesinne en besighede wat sonder hulle moet klaarkom.

Dit het die landdros opgeval dat Henderson en sy regspan, wat beweer hulle weet nie wie die staatsgetuie is nie, in hul betoë van Micayla se plasings op sosiale media melding gemaak het. Hulle weet ook wat haar bakkie se registrasienommer is, en het dié voertuig tot by die paneelklopper gevolg en foto’s daarvan geneem wat hulle by die hof ingedien is.

“Dit toon hulle het speurwerk op Micayla gedoen, ’n getraumatiseerde vrou wat reeds vir haar lewe vrees. Henderson, ’n oud-polisieman, weet hoe bewysmateriaal versamel word. Hy het selfs gepoog om reeksnommers van bewysstukke in die hofsitting te bekom.”

Die moord is met voorbedagte rade gepleeg, en die teiken was die twee insittendes, het die aanklaer Kago Barnett in haar betoë aangevoer. Boonop is die vuurwapen wat gebruik is, nog nie opgespoor nie, en die polisie soek na nog ’n verdagte. Die polisie wag op uitstaande forensiese uitslae en nog getuies moet verklarings aflê.

Die volgepakte hofsaal en ontroerde gemeenskap, waaronder lede van CC Riders, die motorfietsklub waaraan Afrique behoort het, het ’n petisie by die hof ingedien. Mediaberiggewing toon die gemeenskap se skok oor die voorval; mense eis geregtigheid, meen die landdros.

Henderson is in 2017, terwyl hy nog ’n polisielid was, aangekla van ’n gewapende roof by ’n supermark, maar die verhoor is onafgehandel nadat die betrokke landdros oorlede is. Die direkteur van openbare vervolging moet besluit of die verhoor van nuuts af moet begin.

In betoë het adv. Celeste Nameka, Henderson se regsverteenwoordiger, aangevoer dat sers. Bernard Sebongilwe, ondersoekbeampte, en sy bevelvoerder botsende belange het, omdat hulle ook die 2017-saak teen Henderson ondersoek het. Hulle meen ook dat bewyse soos die selfoon op die toneel geplant kon wees, omdat Micayla se pa en omstanders voor die polisie op die toneel aangekom het. Henderson is nie ’n vlugrisiko nie, en hy het geen doodsdreigemente gekry nie. Hy sal instem tot borgtogvoorwaardes.

Die landdros het bevind dat Henderson nie die hof in sy vertroue geneem het nie, en sy stilswye oor die voorval handhaaf. Op die oog af het die staat ’n sterk saak.

Nameka het dadelik aangedui dat hulle teen die weiering van borgtog gaan appelleer. Nadat hofgangers met die verdaging weereens hande geklap het, het Nameka voor Henderson met die trappe af na die selle gestap, toe stilgestaan, na die hofgangers gegluur en beduie, voordat die hofordonnans hulle na onder gebied het.

Plaatje het die saak tot 25 November uitgestel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article