Die totale vrag van 24 palette vrugtesap op ’n 12 m-lange sleepwa is tussen Hopetown en Strydenburg in die Noord-Kaap geplunder nadat die vragmotor van ’n bekende vervoerkontrakteur in ’n ligte ongeluk betrokke was en van die pad moes aftrek.
“Halfhartige polisie-optrede” om die plundering te keer word deur Paul van Niekerk, VF Plus-raadslid in die Thembelihle-plaaslike munisipaliteit, veroordeel.
Van Niekerk sê die plundering van die vragmotor op Woensdagmiddag 24 Januarie kon gekeer geword het.
Dié vragmotor, wat vrugtesap van die Wes-Kaap na Gauteng vervoer het, is van agter getref nadat ’n ander vragmotor dit wou verbysteek, en teruggeval het na die linkerbaan toe ’n vragmotor van voor aangekom het.
Van Niekerk wat op die ongelukstoneel afgekom het, sê hoewel die sleepwa en seil van die vragmotor beskadig is, was die vrag grootliks onbeskadig. Slegs die twee agterste palette was effens beskadig.
“Die ander 22 palette was geheel en al ongeskonde en nog met plastiek toegedraai,” sê hy. Omdat die agterwiele en agterkant van die vragmotor se sleepwa beskadig is, moes die bestuurder die vragmotor tot stilstand bring en kon hy nie verder ry nie. Die bestuurders van die onderskeie vragmotors is nie tydens die ongeluk beseer nie.
Van Niekerk vertel dat hy die twee of drie polisiebeamptes op die toneel gewaarsku het om versterkings te kry om die vrag op te pas, en dat die ongelukstoneel onvoldoende beveilig is.
Verkeersbeheer sou ook nodig wees om motoriste te versoek om aan te hou ry, en nie op die ongelukstoneel te stop nie.
Weens die opeenhoping van die meer as 20 voertuie van die plunderaars, is die verkeer op die N12-roete ontwrig.
Op ’n video van die plundery staan ’n lang ry voertuie van die plunderaars, terwyl hulle ongesteurd hul vrag laai. Hulle het glo die seil verder oopgemaak en die res van die palette se inhoud geplunder.
Op die video is geen polisie-aksie om dit te verhoed, sigbaar nie.
‘n Polisielid op die toneel het glo aan Van Niekerk verduidelik dat hy sy bes gedoen het, maar daar was geen teken van versterkings of pogings om die vragmotor af te sper nie.
“Hier is ‘n geval van wetteloosheid aangesien die vrag in sy geheel gered kon word. Dit lyk egter of die polisie by voorbaat aanvaar het dat die onbeskadigde vrag geplunder sou word en bloot opgedaag het omdat dit hul plig is. Voorvalle soos dié maak dit onveilig om Suid-Afrikaanse paaie te gebruik,” sê Van Niekerk.
Lt.kol. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, sê dat ’n ongeluk tussen voertuie by die polisie aangemeld is ná die voorval omstreeks 16:10, wat ongeveer 20 km buite Hopetown plaasgevind het.
Hy sê agt polisielede van die sigbare polisiëringseenheid in Hopetown is na die toneel gestuur, en met hulle aankoms was daar reeds meer as ’n 1 000 mense op die toneel.
Skarebeheer is toegepas, en die verkeer op die besige N12 is ook gereguleer.
Geen inhegtenisnemings is nog gedoen nie, en die ondersoek duur voort.
- Volgens ’n bron, wat nie geïdentifiseer wil word nie, bestaan WhatsApp-groepe waaraan inwoners van onder meer Hopetown en Strydenburg behoort, en waarin hulle mekaar inlig sodra ’n vragmotorongeluk op die N12, in die omliggende omgewing van dié dorpe, plaasvind. Die doel hiervan is om so gou moontlik op die toneel te kom om moontlik voorraad te kan plunder.




