Rooy-mamma loop vinnig oor die straat, Haar hande is ferm op die kinders se skofte sodat die kerk gehaal kan word voordat die erediens begin.

Die orrelspel voor die diens is ’n sielslafenis vir Mamma, totdat Sussie haar kop onder die kerkbank stamp. Sy huil. Boetie kla sy raas. Mamma maak grootoë.

Ná die Wetsgedeelte is dit Borrelbende- en Sondagskooltyd. Boetie ken die pad na waar die tannies gewoonlik vir die kinders wag. In ‘n poging om hom meer verant­woordelik­hede te gee, moet hy Sussie soontoe begelei.

Die saligheid wat oor die vertrek heers, is van korte duur. ’n “Muis” begin in ’n hoorbare afstand knaag. In die foyer, duskant die moeders­kamer, speel Sussie met afkondi­gingblaadjies. ’n Geleentheid vir ’n les in getrouheid wink en Mamma besluit Sussie sál Borrelbende bywoon. Die kleuterklas hersien die eerste dosyn Bybelboeke in die Ou Testament met die hulp van prentjies. Sussie het vrede met Adam, die ark en tien gebooie. Sy wil eerder uitvind waarheen die speelgoed geskuif is en vind gou ’n kasteel. Dalk dink sy dis ’n kerk?

Terug in die klas sing die jonges saam met oom Jan de Wet se DVD en val op die mat neer wanneer “die mure van Jerigo val”. Sussie bestudeer haar speelding al val die ander om haar.

Ná Sondagskool wei Boetie aan die koekies wat saam met die tee bedien word. Jongste rol haar hande toe met haar ma se romp in ’n poging om dit warmer te kry.

Boetie vat nog ’n koekie. Mamma maak grootoë en hy sê dis sy pa se koekie.

“Mooi, Boeta,” prys Mamma.

Sussie rol Mamma se romp hoër en hoër. Mamma vat weer die kinders aan die skofte. Dis huis-toe-gaan-tyd, voordat daar skandes kom.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article