Ná Saterdag (29/04) se Curriebeker­wedstryd tussen die Griekwas en die Haaie, is die Haaie besig om al hoe nader aan die voorlopers in die reeks te sirkel.

Albert Heenop berig dat dié Haaie-sege van 24 – 6 egter swoeg en sweet gekos het, met die Haaie wat heelwat foute gemaak het.

Die vorige week, op 23 April, het die Griekwas in hul Curriebekerwedstryd teen die Griffons met 42 – 27 geseëvier.

Marnus Kok berig dat ’n geel kaart vir ’n gespoeg deur die Griekwas se loskopstut, Kudzwai Dube, egter ’n effense demper op dié sege geplaas het. Die loskopstut, Kudzwai Dube (23), is in die tweede helfte met ’n geel kaart afgestuur omdat hy ’n speler van die Griffons tydens ’n woordewisseling in die gesig gespoeg het.

In die tyd toe Dube af was, is Die Poubloues se vleuel Rosko Specman is ook met ’n gele afgestuur omdat hy in die lug met ’n speler van die Griffons kontak gemaak het.

Die wedstryd het ook ’n komiese oomblik gehad. ’n Speler van die Griffons het oorgeduik vir wat hy gedink het ’n drie was. Aan sy linkerkant het een van sy spanmaats ook “gedruk” – ook met ’n bal in die hand. Daar was inderwaarheid twee balle op die veld.

Die Griekwas se volgende Curriebekerwedstryd vind Vrydag (05/05) om 15:30 in Kimberley teen die Leeus plaas.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article