Griekwas het Sondagaand (16/04) ’n derde oorwinning in die Curriebeker-stryd behaal deur die Leeus met 25 – 18 te klop.

In die 83ste minuut van die wedstryd, met die telling 18 – 18, het die plaasvervangerstut Cebo Dlamini deur die verdediging gebars, ’n hele ent gehardloop en gaan druk.

Griekwas, wat verlede jaar in die eindstryd teen die Pumas verloor het, het hiermee van die sewende na die sesde plek opgeskuif. Die Leeus bly vyfde op die Curriebeker-ranglys.

Die Leeus kon dalk gewen het as Tiaan Swanepoel, heelagter, twee minute voor die einde daarin kon slaag om die drie wat die oud-Blitsbok JC Pretorius in sy eerste Curriebeker-wedstryd gedruk het, te verdoel.

George Whitehead, die Griekwas-losskakel, het vroeër met drie skoppe in ’n ry pale toe misluk, wat ook die gang van die wedstryd kon verander het. Pretorius het in die paar minute dat hy as plaasvervangervoorspeler op die veld gekom het drie strafskoppe afgestaan, maar dit was vergete toe hy ’n skop opgevolg en ’n drie gedruk het wat die telling 18-elk gemaak het.

Albei spanne het in die laaste 20 minute onnodige foute begaan wat die wedstryd laat lostorring het – totdat die drama hom in die laaste paar minute afgespeel het.

Puntemakers: Griekwas 25 (8):

Drieë: Janco Uys, Johan Mulder, Cebo Dlamini. Doelskop: Eddie Fouché (2). Strafdoel: George Whitehead, Fouché.

  • Griekwas speel Sondag (23/04) om 15:00 op sy tuisveld teen die Griffons.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article