Pieter Bergh, afrigter van die Griekwas se rugbyspan, sê hul planne het mooi gewerk toe hulle Saterdag (27/05) in ’n Curriebekerstryd teen die Cheetahs in Bloemfontein te staan gekom het.
Die eindtelling van die stryd tussen die twee spanne was 29 – 29.
“Ek dink ons was takties uitstekend. Ons spankeuse was in die kol. Ons was in die kol met George Whitehead op heelagter en die manier waarop ons wou speel. Ons het geweet hulle het slegs ’n rolmaal. Maar ons was nie goed genoeg om hul rolmale te keer nie.
“En as jy nie die Cheetahs se rolmale stop nie, sal jy meer dikwels verloor as wat jy gaan wen. Jy kan sê al vier drieë van hulle was van rolmale af.”
Hawies Fourie, afrigter van die Cheetahs, sê hy het kort voor die strafskop ’n boodskap aan die kaptein gestuur om te sê daar moet pale toe geskop word as hulle ’n strafskop sou kry.
Dit was met die gesoute 39-jarige skrumskakel Ruan Pienaar se doodsnik-strafdoel ná die sirene wat die gelykoptelling meegebring het.
“Ek het vir hom gesê hy moet onthou as ons ’n gelykopuitslag het, kry ons drie punte, wat min of meer ’n halfeindstryd beteken.’’
Fourie sê ’n paar van hul lynstaanspringers was ook nie meer op die veld nie en dat dit ’n kans is wat jy neem, om uit te skop.
“Dit was nie ’n maklike skop nie, maar Ruan het al naby die 500 eersterangse wedstryde in sy lewe gespeel en hy het al baie dié soort skoppe oorgeskop.”
Die Vrystaters het daarmee ’n derde agtereenvolgende nederlaag gesystap. Hoewel hulle na die tweede plek afgeskuif het, is hulle met nog twee wedstryde oor met 41 punte vyf punte voor die Pumas en 10 punte voor die Westelike Provinsie (WP), Leeus en Bulle, wat almal 31 het. Die Griekwas het met 30 punte ook nog ’n kans om deur te dring tot die uitspeelrondes..
Fourie sê hulle het dit vir hulself moeilik gemaak by kere, terwyl hul afronding hulle ook weer gekos het. Hy sê hy het gedink dit was hul dag van ’n goeie begin af toe hulle vroeg voorgeloop het.
“Griekwas het toe teruggekom en goed gespeel in daardie tweede deel van die eerste helfte.”Drieë: Janco Uys, Dylan Sjoblom; Doelskoppe: Lubabalo Dobela (2); Strafdoele: Dobela (3), George Whitehead (2).
- Die Griekwas kom Vrydag (02/06) om 15:00 teen die WP-span op die Windhoek Draught Park in Kimberley te staan.
- Die hekke maak reeds om 11:00 oop, en ’n speelarea vir kinders sal op die B-veld beskikbaar wees. ’n Groep toeskouers, wat die beste Griekwas-gees openbaar, staan die kans om R5 000 kontant wen.
- Belangstellendes kan die Facebook-blad Griquas Rugby – G.W.R.U. vir meer inligting besoek, asook waar om kaartjies te koop.




