Stefan Coetzee, vleuel van die Pumas, word op Vrydag 3 Mei deur Marcqiewn Titus (links), vleuel van die Griekwas, omgedop.

Foto: Griekwas

Die Griekwas het ’n vyfstervertoning in die skrums opgelewer en die Pumas se gal in dié faset gewerk in hul kragmeting op Vrydag 3 Mei in die SA Beker-reeks.

Die Poubloues het met 31 – 26 in Kimberley gewen en is nou die enigste onoorwonne span in die reeks. Dit was veral in die tweede helfte, met die stutte Eddie Davids en Cebo Dlamini op die veld, dat die Noord-Kapenaars hul stempel in die skrums afgedruk het.

Vir die grootste gedeelte van die eerste helfte was die Pumas in beheer van sake. Hulle het ’n goeie drie gedruk toe Ross Braude, skrumskakel, ná goeie ondersteunende spel gaan afrond het. Benewens dié drie het die besoekers geduldig die foute van die Griekwas uitgebuit. Clinton Swart, losskakel van die Pumas, het in die eerste helfte nege punte met drie strafdoele bygevoeg en gehelp dat die telling kort voor die rustyd 16 – 3 in die besoekers se guns was.

In die paar minute voor die draaislag het die Poubloues ’n bietjie meer doelgerig gespeel en is hulle met ’n drie beloon toe die flank Thabo Ndimande oorgeduik het.

Sy drie, wat verdoel is, sou die tuisspan baie selfvertroue gegee het.

In die tweede helfte het die Poubloues aangehou om – veral met hul stewige skrumwerk – aan die deur te klop en dit toe oopgeskouer met Lubabalo Dobela se drie.

George Whitehead het twee punte met ’n doelskop bygevoeg om die Griekwas met 17 – 16 die voortou te gee. Kort daarna het die senter Theuns Pretorius egter vir die Pumas met ’n drie teruggeslaan. Die Laevelders het hulself in die voet geskiet toe Tino Swanepoel (heelagter) met ’n geel kaart afgestuur en ’n strafdrie aan Griekwas toegeken is.

Dit het die telling 24 – 23 vir die tuisspan gemaak. Die Pumas het egter nie boedel oorgegee nie en met nege minute se speeltyd oor het Swart drie punte met ’n strafdoel bygevoeg om die telling 26 – 24 in hul guns te maak.

Kort voor die einde van die wedstryd het die Griekwas naby aan die Pumas se doellyn geboer en die besoekers keer op keer stukkend geskrum. Boonop is nog ’n Puma met ’n gele afgestuur, waarna Cameron Hufke, die Poubloues se heelagter, oorgeduik het vir ’n drie.

Daar was nog tyd om weer af te skop, maar die Pumas kon nie weer punte aanteken nie.

Die Griekwas meet op Saterdag 11 Mei om 15:00 kragte met die Phangela SWD Eagles op die Suzuki-stadion in Kimberley.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article