BLOEMFONTEIN – ‘n Passievolle krieketspeler en waardige leier van Grey-kollege (sekondêr) is Dinsdagaand op ‘n spoggeleentheid aangewys as 2026 se Matrikulant van die Jaar.
Tamim Alam is deur ‘n paneel beoordelaars uit die topmatrikulante as die 45ste Matrikulant van die Jaar aangewys. Die kompetisie word aangebied deur die Universiteit van die Vrystaat (UV) en Novus Media.

Matrikulante van skole oor die land heen het vanjaar om dié gesogte titel meegeding.
Tamim Alam is die vyfde leerling van dié skool wat dié kompetisie vir veelsydige matrikulante gewen het. Byna 80 uitblinkers op alle terreine van oor die land heen het hulle vanjaar ingeskryf. Benewens hul prestasies op die terreine van sport, kultuur en leierskap, handhaaf die deelnemers vanjaar ’n akademiese gemiddeld van 82% met die 13 finaliste wat gemiddeld 86% kry.
Tamim het groot waardering vir sy ouers, Khorshed Alam en Tahmina Akter, wat uit Bangladesj na Suid-Afrika gekom het om vir hom en sy ouer broer, Tanbir, ’n beter toekoms te verseker. “My ouers het altyd die beste besluite vir ons gemaak om seker te maak ons kry geleenthede.”

Familie is vir hom baie belangrik en sy broer, ’n student in megatroniese ingenieurswese aan die Universiteit van Stellenbosch, is ook een van sy rolmodelle wat hom ondersteun in alles wat hy aanpak.
As krieketspeler is die skool se eerstespankaptein, Henro de Wet, ook iemand na wie hy opsien. “Hy is vasberade en gedissiplineerd in alles, werk altyd harder as die res en boonop is hy ook ’n akademiese uitblinker,” sê Tamim.
Dié voornemende student in aktuariële wetenskap sê hy was nogal altyd lief vir syfers. Hoewel dit sy ma se droom was dat hy ’n dokter moes word, het hy gevoel daar is ander maniere om mense te help as om ’n geneesheer te word. “As aktuaris sal ek graag mense wil help deur geleenthede te skep; ek wil nie meer daklose mense en bedelaars op staat sien nie. Ek wil mense eerder deur entrepreneurskap help om werk te kry.”
Uit die inbskrywings is 25 semifinaliste en eindelik 13 finaliste gekies wat oor twee dae in Bloemfontein op grond van onderhoude en spanwerk deur ’n paneel beoordelaars beoordeel is.
Die kandidate wat as die topgroep van finaliste en semifinaliste uitgesonder is, word nie net vir hul akademiese prestasies erken nie, maar ook vir hul leierskap, sport- en kultuurprestasies. Baie van die leerlinge is ook aktief by hul skole en in hul gemeenskappe betrokke. Matrikulante wat beoog om volgende jaar aan die UV te studeer, kon hulle inskryf.
LEES OOK: Matrikulant van die Jaar | Hier is die topkandidate in gesogte kompetisie.

Die finaliste is van Maandag 5 Oktober af bymekaargebring vir deelname aan die eindronde, waarin Tamim te midde van uitblinker-kandidate as die topmatrikulant na vore getree het.
Jenna du Plessis van die Hoër Meisieskool Oranje is aangewys as vanjaar se vonkelpersoonlikheid en Francois Cilliers, ook van Grey-kollege, is aangewys as vanjaar se uitblinker in sport.

Braam van Wyk, skoolhoof van Grey-kollege, sê Tamim is ‘n ware leier wat respek afdwing en alle mense met respek behandel.
“Hy is ‘n goeie voorbeeld van ‘n Grey-leerder. Ons is baie trots op hom,” het hy op die geselligheid by Monte Bello gesê.
LEES OOK: Veelsydigheid seëvier

Tydens die finale beoordeling is die finaliste onder meer deur verteenwoordigers van die borge ondervra. Die kompetisie se ouditeure, Forvis Mazars, was deurentyd teenwoordig om toe te sien dat die beoordelingsproses glad en regverdig verloop.
Die Kovsie-Alumni Trust is weer die hoofborg van die kompetisie met ’n bydrae van R125 000. Ander borge is Absa (R120 000), Pick n Pay Preller Walk (kombuisware vir die finaliste) en Forvis Mazars (R35 500).
Die wenner ontvang R25 000 se prysgeld ná registrasie in 2027 in ’n Absa-rekening, asook ’n
R15 000-studiebeurs van UV-Studentewerwing.
Elkeen van die finaliste ontvang R13 000 se prysgeld ná registrasie, ’n R10 000-studiebeurs en ander geskenke van die borge, terwyl die semifinaliste elkeen R6 000 se prysgeld en ’n R5 000-studiebeurs van die UV ná registrasie in 2027 ontvang.








You must be logged in to post a comment.