Die Rietfontein-grenspos tussen Suid-Afrika en Namibië is steeds gesluit sedert die Covid-19-inperking in Maart 2020 afgekondig is, en inwoners in dié afgeleë gebied van die Noord-Kaap voel nou dat die “president en die regering van die grenspos vergeet het”.
Dié grenspos, met Rietfontein aan die Suid-Afrikaanse kant, en Klein Menasse aan die Namibië-kant, is die enigste een in ’n wyd uitgestrekte gebied. Die grenspos is vanweë sy ligging baie gewild by toeriste tussen Namibië, die Kgalagadi-oorgrenspark en Upington.
Vir die meer as twee jaar dat die grenspos toe is, het ondernemings wat verblyf aan toeriste verskaf, geen inkomste nie. Boonop sukkel inwoners wat familielede in Namibië het om hulle te besoek.
Gert Eiman, ’n inwoner, sê hulle wil onder die regering se aandag bring dat die grenspos toe is en dat inwoners swaar trek.
“Ons familie en vriende van Aroab, Keetmanshoop en Windhoek moet Nakop-grenspos om ry tot in Rietfontein. Dis baie geld en baie meer kilo’s. Kan julle dit asseblief onder die regering se aandag bring om die grens te kom oopmaak? Dit lyk asof hulle van die grenspos vergeet het,” meen ’n ander inwoner.
Nog een skryf: “Wanneer maak die grens oop? Ons verlang onse grootmense. Om Upington om te ry tot in Rietfontein is 830 kilo’s van Keetmanshoop af. Doen tog iets aan die saak. Petrol is so duur.”
Die afstand tussen Rietfontein en Keetmanshoop is 200 km.
Op ’n medianavraag aan die nasionale departement van binnelandse sake, het Siyabulela Qoza, mediawoordvoerder, gesê al die grensposte wat tans nog gesluit is, sal ná konsultasie met die betrokke buurlande heropen. Geen tydsaanduiding is gegee nie.





