Eiendom wat van ’n perseel in Kakamas se nywerheidsgebied gesteel is, is Woensdag 10 Mei te danke aan die toetrede van twee polisiekonstabels teruggevind.
Nadat konstabels Marcel Coetzee en Selwyn de Wee ’n klagstaat geopen het ná ’n inbraak in die gebied, is hulle na die nabygeleë Bloukamp-woongebied om inligting oor die inbraak te probeer inwin.
Kapt. Nelis Prins, polisiewoordvoerder, sê die twee konstabels het ’n persoon opgemerk wat voorheen by inbrake betrokke was, en hom voorgekeer.
Ná ondervraging het die persoon erken dat hy by die inbraak betrokke was. Hy het die polisielede ook na die plek geneem waar die gesteelde eiendom in die veld versteek was.
Die gesteelde eiendom, met ’n beraamde waarde van R60 000, is teruggeneem.
Met die opvolg van verdere inligting is ’n tweede verdagte in hegtenis geneem. Die polisie is op die spoor van nog twee ander persone wat ook by die inbraak betrokke kon wees.
Die twee manlike verdagtes, onderskeidelik 25 en 28 jaar oud, word aangehou en sal binnekort in die hof op aanklagte van huisbraak en die besit van vermoedelik gesteelde eiendom verskyn.
Die stasiebevelvoerder van die polisie in Kakamas, kol. Dries Witbooi, het sy dank uitgespreek teenoor die lede vir hul oplettendheid.





