Maruping Lekwene, Noord-Kaapse LUR vir gesondheid, het in sy begrotingstoespraak gesê hy is tevrede dat die sukkelende departement verbetering toon.Foto: Charné Kemp


Ná jare se swak ouditmenings meen die sukkelende Noord-Kaapse departement van gesondheid hy is op pad na herstel.

Só het die topbestuurslede en die LUR verlede week in Kimberley gesê. Die stelling volg op Maruping Lekwene, LUR, se begrotingstoespraak wat hy in Kakamas gelewer het. Lekwene en Riaan Strydom, waarnemende departementshoof, het Vrydag (24/06) gesê die departement het geen ongemagtigde uitgawes in die 2020-’21-geldjaar aangegaan nie, vergeleke met die R234 miljoen in die vorige geldjaar. Agterstallige rekeninge het van R590 miljoen na R275 miljoen gedaal.

Volgens Lekwene het hulle begin om kritieke poste te vul. Volgende week adverteer hulle 249 permanente poste vir ondersteuningspersoneel soos skoonmakers, portiere, droogskoonmakers en lykshuis-assistente.

Die departement gaan binnekort ’n ooreenkoms met ’n universiteit bekend maak waarin verpleegpersoneel opgelei word om ná voltooiing van hul studie in die Noord-Kaap te werk. Die verpleeg-en-nooddienste-kollege en -koshuis sal in die vierde kwartaal teen R160 miljoen voltooi wees.

“Volgende maand kwalifiseer sowat 99 aptekersassistente, wat die departement verder gaan oplei om medisynevoorraad te bestuur. Altesaam 32 beurse word vir ortodontiese en prostetiese studie beskikbaar gemaak.”

’n Nuwe hospitaalraad en kliniekkomitees gaan ook aangestel word. Benoemings word ingewag.

Intussen moet ander probleme opgelos word.

Volgens Strydom word ’n tugproses “binnekort” gehou vir twee amptenare wat deur strafregtelike aanklagte in die gesig gestaar word.

Die beskuldigdes is dr. Dion Theys, voormalige departementshoof, en Daniel Gaborone, voormalige finansiële hoof. Theys is verlede Maart aangekla dat hy as verantwoordelike amptenaar nie die wetlike voorskrifte ingevolge die Wet op Openbare Finansiële Bestuur gevolg het toe huurkontrakte vir verblyf vir verpleegstudente van R96 miljoen in 2014 aangegaan is nie.

In Augustus 2021 is hy in ’n afsonderlike saak saam met Gaborone van bedrog en oortredings van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur aangekla oor persoonlike beskermingstoerusting van R43 miljoen, gekoop vir die Covid-19-pandemie.

Die geskorsde Theys en Gaborone verdien steeds salarisse, en die departement het reeds R1 miljoen vir hul regskoste opgedok.

“Ons stel ook ondersoek in na die voorval waarin ons nooddienste uit ’n gebou in Kuruman na die hospitaal getrek het en medisyne in die gevandaliseerde gebou agtergelaat is. Dit is ons medikasie, die reeksnommers bevestig dit,” sê Strydom.

Die grootste bekommernis is die toestand by die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal (RMSH) in Kimberley. Net vyf van die agt teaters word gebruik weens ’n tekort aan dokters en spesialisverpleeg­personeel. By tye werk die hysbakke en yskaste in die lykshuis nie, maar Lekwene sê nuwe yskaste is afgelewer.

“Ons gaan die hospitaal met verdrag opknap.”

Hy sê hulle moet ’n distrikhospitaal in Kimberley bou om die druk van RMSH af te haal. Die kraam- en pediatriese saal moet na ander geboue verskuif sodat die RMSH eindelik net spesialisdienste lewer.

Elektroniese pasiëntlêers is reeds in gebruik by klinieke wat digitaal gekoppel is, en in die volgende geldjaar wil hulle 135 van die 159 klinieke en hospitale elektronies koppel. Die departement het vanjaar talle nuwe klinieke geopen en bou nog klinieke.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article