Die twee geskorste polisiesersante van die Kimberley voertuigdiefstaleenheid wat in verskeie afsonderlike strafsake van onder meer voertuigdiefstal, bedrog en korrupsie aangekla word, gaan Kersfees en Nuwejaar agter tralies deurbring nadat hul uitgerekte borgtogaansoek op Woensdag 18 Desember tot 15 Januarie uitgestel is.
Landdros Memory Qomoyi het hul aansoek, om weens vrese oor hul veiligheid eerder in polisieselle as die gevangenis aangehou te word, verwerp. Die beskuldigdes kon nie toon dat daar ’n ondersoek was nadat hulle glo vroeër in die gevangenis deur ander aangehoudenes aangerand is nie.
Serss. Khiba Domini Zulu en Tshepo Abraham Thae, en hul drie medebeskuldigdes, Phenyo Sekutenyane, Shepherd Ndimande en Thepelo Goodenough Pandle, staar ses aanklagte in die gesig wat insluit oortredings van die Wet op die Vrederegters van die Kommissarisse van Ede, bedrog, korrupsie, voertuigdiefstal en regsverydeling.
Met ’n vorige hofverskyning is gehoor dat die lede reeds geskors is en van hul voordele verloor het ná hul inhegtenisneming aan die begin van November.
Een van die twee lede is verlede jaar deur die polisie ontslaan, maar weer aangestel nadat daar op hoëvlak ingegryp is. Thae staar ook drie ander, en Zulu een ander afsonderlike aanklag saam met soortgelyke aanklagte in die gesig. In dié sake het albei borgtog gekry.
Die verdagtes was in die jongste saak teen hulle na bewering in voorvalle gedurende September en Oktober 2024 betrokke waarin voertuie onwettig op beslag gelê is met die oogmerk om dit te verkoop. Die waarde van die voertuie beloop sowat R2,5 miljoen.
Die staat staan die borgtog van die polisielede teen omdat hulle reeds op ander soortgelyke strafsake op borgtog vrygelaat is.
Die twee se regsverteenwoordigers het geweldig klem daarop gelê dat hulle broodwinners is wat hul werk kan verloor weens hul uitgerekte aanhouding. Hulle het vroue, kinders en familielede wat op hulle steun.
Hul mediese skema kan ook opgeskort word. Die wete dat hulle nie meer vir hul geliefdes kan sorg nie, kan hulle sielkundig benadeel. Die aanhouding is ook nadelig vir hul fisieke gesondheid. Die polisielede het reeds hul salarisse ingeboet omdat hulle op onbetaalde verlof geplaas is.
Sers. Clifford Sinley, ondersoekbeampte, het vroeër getuig dat hy vermoed die beskuldigdes is deel van ’n sindikaat. Die modus operandi wat glo in verskeie gevalle gevolg is dat voertuie op beslag gelê is en dat die beamptes in hul verklarings ’n saakverwysingsnommer van ’n gesteelde motor in Boksburg-Noord misbruik.
Hulle het na bewering valslik in eedsverklarings aangevoer hulle het op die voertuie beslag gelê, fisiek geïnspekteer en by die SAPD 13-eiendomstoor in Kimberley ingeboek. Die beskuldigdes sou na bewering die enjin- en onderstelnommer verander.
In die jongste voorval is ’n gesteelde Jeep Cherokee 2019-model se besonderhede verander na ’n voertuig wat uit die 1960’s dateer waarna dit weer op die stelsel geplaas is. Die antikorrupsie-eenheid in Bloemfontein het die Jeep in Sekutenyane se vrou se besit gevind. Volgens Sekutenyane het hy die voertuig by Ndimande gekoop, maar die voertuig was in Pandle se naam registreer. Na bewering is Pandle se ID-dokument deur Zulu in die bedrieglike proses gebruik.
Adv. Kenneth Julies, namens Zulu, het aangevoer dat Zulu as polisieman misdaad moet bekamp en dat sy ervaring by die voertuigdiefstaleenheid ingespan moet word. Hy is nie die een wat die voertuie op die eNatisstelsel ingevoer het nie, maar verkeersbeamptes.
Adv. Thobile Komazi het namens Thae aangevoer dat hy bloot op instruksie van Zulu opgetree het, en niks onwettig gedoen het nie.




