Die twee moordbeskuldigdes is die weermaglid Mzumanzi Zwakala (links), wat op borgtog vrygelaat is, en sy vriend, David Kangombe, wat in aanhouding is.

Foto: Charné Kemp

’n Weermaglid en sy vriend wat van die moord op Amogelang Assegaai, ’n gr. 12-leerling aan die Kimberley Boys’ High School, verdink word, se verhoor wat Maandag 22 Julie in die hooggeregshof in Kimberley sou begin het, is uitgestel weens probleme met hul regsverteenwoordiging.

Die moord op 23 Oktober 2022 het opslae gewek en die Assegaai-familie en hul ondersteuners het van die hofbanke vol gesit in afwagting van die verhoor.

Assegaai is na bewering oor ’n geskil oor ’n selfoon geskiet en die koeël het sy long en aorta deurboor. Hy is op die sypaadjie voor sy ouerhuis dood verklaar.

Mzumanzi Zwakala, wat op borgtog vrygelaat is, en David Kangombe in aanhouding, word van die voorbedagte moord in Verwoerdpark aangekla, en Kangombe ook van regsverydeling. Albei is 48 jaar oud en woon in Kutlwanong.

Zwakala wat in die weermag dien, besit ’n vuurwapen en is in die gebruik daarvan opgelei.

Die staat voer aan dat Zwakala se seun, Kamva Zwakala, op 21 Oktober 2022 by ’n partytjie by Assegaai se huis was. Gedurende die aand het ’n onderonsie ontstaan waarin Kamva glo beseer en sy selfoon vermis geraak het. Kamva het op 22 Oktober ’n klagte by die polisie oor sy verlore selfoon ingedien.

Daardie Sondag, op 23 Oktober, het die seun, die twee beskuldigdes en nog mense in Zwakala se groen Cressida-voertuig na die Assegaai-huis gegaan. Kangombe het die voertuig glo elke keer bestuur.

Toe hulle in die betrokke straat kom, het Zwakala glo woedend oor die voorval gepraat en aan van die bure gebulder dat “die hele Kimberley ken hom, hy sal die stad klein maak en diegene seermaak wat sy seun te na kom. Hy is in die weermag en weet hoe om vuurwapens te gebruik.”

Die buurvrou en ander bure het glo vir hul eie en hul gesinne se lewe gevrees weens dié dreigement.

Amogelang Assegaai

Zwakala het toe met Assegaai gepraat, waarna laasgenoemde gesê het hy sal hom bel sodra hy die vermiste selfoon opspoor.

Zwakala en Kangombe is daar weg, maar het later die aand saam met Kamva teruggekeer nadat Assegaai hulle gebel het. Op die sypaadjie voor die huis het Assegaai die selfoon oorhandig. Kamva het daarmee in die voertuig geklim en gemerk dat die foon beskadig en die sim- en geheuekaart weg is.

Dit is toe dat die skoot glo afgegaan en die gewonde Assegaai na sy ma geroep het.

Die staat voer aan Zwakala het in die voertuig gespring terwyl Kangombe die ligte afgeskakel en weggejaag waarna hy die voertuig in Zwakala se garage parkeer het.

Op 31 Oktober het Kangombe na bewering in ’n eedsverklaring gejok dat hy nie tydens die voorval teenwoordig was nie.

Regter Violet Phatsoane het die verhoor tot 29 Julie uitgestel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article