Meer as drie maande nadat die 19-jarige Damian du Toit van Kimberley ernstig in ’n ongeluk beseer is, lê nog maande se rehabilitasie en opvolgbesoeke aan spesialiste voor.
In die ongeluk het hy ernstige beserings aan onder meer sy skedel, ruggraat en ander ledemate opgedoen. Hy was vir ongeveer twee maande in die hoësorgeenheid van die Lenmed Royal-hospitaal-en-hartsentrum, en daarna vir ongeveer ses weke in rehabilitasie in die Jane Keyser– private hospitaal in Hartswater.
Kort ná die ongeluk het dokters getwyfel of hy weer op sy eie sal kan eet, praat of loop.
“Maar elke dag doen Damian net meer en meer,” sê sy ma, Lottie.
Voordat hy sy spraakvermoë herwin het, het hy vir haar op ’n briefie geskryf dat hy weer sal loop – wat hy grootliks reeds kan doen.
Damian, ’n oudleerling aan die Hoërskool Noord-Kaap, moet onder meer nog spraakterapie ondergaan, afsprake by ’n oogspesialis lê voor weens ’n oogbesering, asook talle sessies met arbeidsterapeute.
Weens die beserings is sy vel baie sensitief en moet spesiale rome gebruik word. Medikasie is ook ’n groot uitgawe.
“Ek wil hê my kind moet weer as 19-jarige onafhanklik kan funksioneer,” sê Lottie.
Damian was op 27 Februarie in ’n ongeluk toe hy saam met ’n vriend op ’n motorfiets huis toe gery het ná ’n aand uit.
’n Vrou, wat na bewering onder die invloed van alkohol bestuur het, het in ’n Toyota Tazz voor hulle ingery. Damian, as passasier, is van die motorfiets afgeslinger en het sy bewussyn verloor.
- Kapt. Tessa Jansen, polisiewoordvoerder, bevestig dat ’n klag van roekelose en nalatige bestuur, asook dronkbestuur teen die verdagte, Waseliza Williams, geopen is. Sy is op die toneel in hegtenis geneem en het reeds op alle klagtes in die Kimberley-landdroshof verskyn. Jansen sê die saak is uitgestel tot die uitslae van die bloedtoetse bekend is, waarna ’n nuwe hofdatum vir die verdagte se verskyning vasgestel sal word.
- Om met Damian se mediese uitgawes te help vind ’n geldinsamelingsgeleentheid op Saterdag 25 Junie om 10:00 tot laat by die Gum Tree Lodge Route 64 by Kimberley plaas. ’n Kaartjie kos R150 per persoon, en sluit ’n braaipak en slaaie in. Kunstenaars gaan optree en dit beloof om ’n rustige kuiergeleentheid te wees. ’n Kontantkroeg sal ook beskikbaar wees.
- Skakel 066-235-6629 of 062-995-8930 vir meer inligting.





