Brokkoli-sop, beproef en heerlik op die tong.

Foto ter illustrasie. Foto: Unsplash/Denise Spijke

’n Heerlike brokkoli-sop is onlangs tydens ’n byeenkoms by die Tadcaster-tak van die Sirkel Kimberley en distrik van die Vroue-landbouvereniging van Kaapland (VLVK) voorgesit.

Deel van die verrigtinge was ’n weefdemonstrasie wat lede baie insiggewend gevind het.

Suritha Pretorius, voorsitter van die Tadcaster-tak, het daarna dié sop – beproef deur die VLVK-lede en as heerlik op die tong beskryf – saam met tuisgemaakte brood voorgesit.

Brokkoli-sop, beproef en heerlik op die tong.

Bestanddele

2 kg brokkoli

2 liter melk

500 ml room

4 pakkies hoenderroomsop

Maak so

Kook die brokkoli tot sag en dreineer. Maak dit fyn.

Verhit die melk tot kookpunt en voeg die fyngemaakte brokkoli by.

Voeg daarna die pakkies hoenderroomsop by en kook tot dik.

Voeg die room by en roer deur.

Bedien dadelik.

(Die resep kan met sukses verklein word.)

As ’n variasie op gewone broodresepte, probeer hierdie Marmite-broodresep, soos publiseer in die Sarie van 19 Maart, saam met die sop:

’n Marmite-brood is ’n interessante variasie op tuisgebakte brood.

Bestanddele:

310 ml louwarm water

10 g-pakkie kitsgis

10 g sout

65 g Marmite (of Bovril)

20 ml heel karwysaad

30 ml heuning

30 ml botter, gesmelt

90 ml rogmeel

800 ml broodmeel

ekstra meel vir sif en rol

botter en kaas, vir wanneer die brood voorgesit word.

Maak so

Meng die water, gis, sout, Marmite, karwysaad, heuning en botter in ’n middelslagmengbak.

Voeg die rogmeel by en meng. Voeg nou genoeg broodmeel by om ’n stywe, kniebare deeg te vorm.

Knie die deeg met jou hande vir 8-10 minute of tot glad.

Sit dit in ’n skoon bak wat met olie gesmeer is en laat dit rys op ’n warm plek tot dubbel die volume, sowat 30-45 minute.

Verhit die oond tot 220° C. Smeer ’n gietysterpot goed met olie.

Knie die deeg af, sprinkel meel op die werkvlak en rol die deeg in ’n bal.

Plaas die deeg in die pot en druk dit effens plat. Laat dit weer rys tot dubbel die volume, so 20-30 minute.

Sif ’n bietjie meel oor die brood. Indien jy skeppend wil wees, sny patrone met ’n skerp lemmetjie op die rou deeg.

Plaas die deksel op die pot en bak dit 25-30 minute of tot goudbruin en gaar.

Sit dit voor saam met botter en kaas, en geniet dit saam met die brokkoli-sop.

Suritha Pretorius, voorsitter van die Tadcaster-tak van die Vrouelandvereniging van Kaapland (VLVK).

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article