Awie Horn (81), ’n legende in onderwys- en boerderykringe van De Aar, is op 23 Junie ná ’n lang siekte oorlede. Hy het aan Parkinson se siekte gely.
Horn, wat geliefd en wyd gerespekteer onder inwoners was, was 30 jaar ’n Afrikaanse onderwyser by die Hoërskool De Aar. Hy het ’n groot invloed op duisende leerlinge gehad wat veel wyer as sy vak en diensjare gestrek het.
Volgens een oudleerling “kon jy met enige generasie praat wat in De Aar skoolgegaan het en hulle sal van meneer Horn praat. Dit voel of hy 100 jaar daar skoolgegee het.”
Nog een sê: “Hy het respek in sy klasse afgedwing sonder om ooit te raas of moeilik te wees. Hy kon kinders opsom en die goeie in elkeen raaksien. Geen leerling wou hom teleurstel nie.”
’n Engelssprekende wat in sy klas was, sê: “Hy het ’n leeftyd se mense gedien. Geslagte wat was en geslagte wat kom, sal die vrug en voordeel van sy lewe erken.”
Albertus Human Horn is op 19 Desember 1941 op die plaas Valspan in die Prieska-distrik gebore. Hy het op die plaas Biesieslaagte grootgeword en aan die Hoërskool Hopetown matrikuleer, waar hy akademies presteer en in sport uitgeblink het.
Die Griekwaland-Wes o.19 rekord vir die 220 treë-naelloop het lank agter sy naam gestaan. Ná matriek het hy sy onderwysgraad in Bloemfontein met Afrikaans en liggaamlike opvoeding as hoofvakke behaal. Daarna is hy na die Universiteit Stellenbosch (US) vir nagraadse studies in Afrikaans. Sy onderwysloopbaan het in 1965 in De Aar begin waar hy tot adjunkhoof gevorder het.
Hy het nie net ’n liefde vir Afrikaans by leerlinge vasgelê nie, hulle het na hom opgekyk.
Die matriekklas van 1986 sê: “Sy manier van loop, sit of staan was doelgerig en vol selfvertroue. Nooit met sy hande in die sakke nie, maar altyd statig en stewig gestaan om elkeen van ons te help.”
Horn se leerlinge onthou hom vir sy liefde vir gedigte. Dit matriekklas van 1973 onthou Horn deur Jan F.E. Cilliers se bekende gedig, “Generaal De Wet”: “Stil broers, daar gaan ’n man verby, hy groet en dis verlaas…”
Afgesien van ’n kleurryke onderwysloopbaan het Horn deeltyds op die plaas Hartebeeshoek net buite De Aar met dorperskape geboer. Sy Albian-dorperstoet is een van die oudstes en bestes in die land en het 12 Suid-Afrikaanse kampioene en toppryse op veilings opgelewer.
Horn het in die nasionale en internasionale bokbedryf presteer. Met sy kennis van diere en genetika was hy instrumenteel in die ontwikkeling en registrasie van twee nuwe bokrasse, die Kalahari Red en die Blackberry. Hy was ook ’n gekwalifiseerde afrigter en beoordelaar van saalperde.
In een hoofstuk oor familie, skryf Horn: “Hoe waar is die gesegde nie, dat as jy eers eenmaal van De Aar se water gedrink het, kom jy altyd weer terug. Ook elkeen van my kinders en kleinkinders se wortels lê diep in De Aar se aarde begrawe”.
Horn word oorleef deur sy vrou, Brenda, met wie hy 58 jaar getroud was, seuns Ian en Albie, wat albei vir Vrystaat- en Griekwas-rugby uitgedraf het, en dogters Anrié Venter en Miné Olivier.
Hy laat ook 12 kleinkinders en een agterkleinkind na.
Horn word Saterdag 8 Julie vanuit die NG kerk in De Aar begrawe.
– De Aar Echo, verwerk en verkort deur Charné Kemp.





