Selfs mense wat met ’n slenter gevang word om as ’n “geldmuil” op te tree, kan aangekla word van ’n misdryf, waarsku die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA).
Die FSCA waarsku mense om versigtig te wees vir onbekendes wat hulle versoek om hul bankrekening beskikbaar te stel vir geld om gedeponeer te word en om die geld dan na ander rekeninge te stuur.
Daar is dikwels sprake van ’n beloning of vergoeding.
Die Suider-Afrikaanse bedrogvoorkomingsdiens (SAFPS) het reeds verlede jaar gewaarsku dié voorvalle neem toe.
Die FSCA sê bedrieërs gebruik dié bankrekeninge om die opbrengs van misdrywe soos dwelm- of mensehandel, diefstal, bedrog en korrupsie te ontvang.
Soms vra die misdadigers ook die slagoffers om hul eie identiteitsdokument te gebruik en bankrekeninge namens hulle oop te maak.
“Dié gebruik van bankrekeninge is onwettig.
“Die eienaars van die bankrekeninge wat gebruik word om misdade moontlik te maak, kan aangekla en skuldig bevind word aan ’n misdaad, selfs al het hulle dalk onwetend daaraan deelgeneem.”
Dit kan tot tronkstraf lei, of die persoon kan moontlik toegang tot banke verbied word.
BusinessTech het vroeër vanjaar berig volgens Standard Bank het sulke voorvalle die afgelope drie jaar skerp toegeneem.
Soms word mense selfs gelok deur poste wat geadverteer word, soos vir ’n “financial transaction control analyst”.



