Arnold Solomons, sy vrou, Janetta, en skoonsuster Maria Sehako is van die inwoners van die Roodepan Flats, woonstelgeboue wat die Sol Plaatje-munisipaliteit van Kimberley moet onderhou.
Dié drie bejaardes verkoop ysies, springmielies, beskuitjies, polonie, vis en atjar aan skoolkinders en die mense met die “orange suits” vir ’n inkomste.
Volgens Solomons is deeglike onderhoud aan die gebouekomplekse “laas in apartheid” gedoen. Hy bly al 18 jaar hier. Sehako sedert die 1990’s.
Buite die gebou wys hy na stukkende balkonrelings; verbrokkelende beton waar ’n vrou ’n paar jaar gelede deur ’n vallende stuk beton beseer is; plekke waar pilare oorhel, betonplafonne uitsak en lewendige elektriese drade ontbloot is; stukkende dreine en afvoerpype; ruitlose vensters en vergete posbusse.
Die vurkheining word stuk-stuk gesteel en groen rioolwater vloei by mangate uit. Graffiti ontsier die buitemure.
Reënwater loop deur stukkende dakke en krake wat deur “vrot” lekkende pype in die geboustruktuur vererger word.
Die geboue bars uitmekaar.
Solomons en sy bure wys waar kombuiswasbakke oorhel, teëls van mure afval en krane morsaf gebreek is.
Een vrou sê haar meubels trek uitmekaar omdat sy altyd lekkende water in haar woonstel het. Stukke van die plafon val uit en die warmwatertoestelle werk jare lank nie meer nie. Almal moet water op hul stowe kook, wat hul kragverbruik opjaag.
Die druppende water speel parte met die elektrisiteitstoevoer.
“As jy die ligte hier aansit, slaat daardie ligte af. Saans gebruik ons maar bedlampe in die huis,” sê Solomons.
“Toe ek een keer stukkende krane aangemeld het, het die werkers die krane en pype gebreek. Ek het dit uit my sak reggemaak. Die plafon het ek met pap en lap reggemaak.
“Werk jy aan ’n pyp hier, breek hy daar. Nie eens ’n loodgieter sal iets kan doen nie. Dit sal konstruksiewerkers moet wees wat die geroeste pype in die mure moet vervang. Ons kan glad nie die warmwaterkraan by die bad oopdraai nie. Draai jy aan hom, is dit nag.
“Sommige mense moes kombuiswasbakke afhaal en dromme daar plaas omdat die pype in die muur afgebreek het. Hulle het plastiekpype in die ou pype gedruk en krane prakseer.
“Hierbo is ’n los dakplaat wat aanmekaar slaat. Ek weet nie hoe slaap daai mense nie, want ek hoor dit hier op die grondvloer. Ek wil nie kla oor goed wat ek self kan regmaak nie, maar daai is ook ’n ding wat ek nie kan regmaak nie.”
Daar is nie meer hoop in hierdie woonstelle nie, sê hy.
Die inwoners het ophou kla en aanvaar hul lot.
“Die vurkheinings word helder oordag gesteel. Nóg die munisipaliteit nóg die polisie gaan of kan iets daaraan doen.
“Ek soek eintlik ’n beter woord as genade, want ek weet nie of ons onder en op genade leef nie. Wat help dit jy kla? Jy hou dit maar vir jouself en sorteer dit self uit. As dit verder as ons gaan, is daar moeilikheid.”




