Groot dele van De Aar is reeds meer as twee weke lank sonder water, en huishoudings, ondernemings, ouetehuise, skole en gesondheidsorggeriewe word ernstig ontwrig.
’n Beroep word op die provinsiale regering gedoen om dringend te help om die invloed van die watertekort in dié deel van die Emthanjeni-distriksmunisipaliteit te versag.
In ’n verklaring sê die DA dat ’n oorsiginspeksie van die waterinfrastruktuur wat verlede week uitgevoer is, ’n gebrek aan instandhouding uitwys wat deur die hoë voorkoms van beurtkrag vererger word.
Ridwaan Smith, DA-raadslid, sê die onlangs herstelde waterversterkerpompe bied ’n uitdaging weens oorstromings. Die hoofreservoir lek en is slegs 12,3% vol. Gebreekte waterpype dra verder tot lae waterdruk by.
Smith sê Emthanjeni het twee boorgate naby die hospitaal beskikbaar gestel, maar die departement van gesondheid het versuim om twee sonkragpompe hiervoor te bekom, ongeag ’n versoek aan die begin van die nuwe boekjaar om hiervoor te begroot.
Om die huidige gebruik van slegs ’n bakkie met ’n watertenk aan te vul, het die party die LUR van paaie en openbare werke versoek om vragmotors met watertenks beskikbaar te stel vir watervoorsiening.
’n Versoek is ook ingedien vir die aanbring van sonkragpompe by die twee boorgate. Die party onderneem ook om met gemeenskapsorganisasies te vergader om ’n gekoördineerde reaksie op De Aar se voortslepende waterprobleme te beplan.



