Die personeel, belanghebbendes van die Gekombineerde Skool Friersdale R.K. en raadslede van die !Khai Garib-munisipaliteit vier die 100%-slaagsyfer in die 2024-matriekeksamen. In die voorste ry, vierde van links, is Abraham Vosloo (LUR van onderwys), met regs van hom Henry Isaacs (adjunkhoof) en Gordon March (distriksdirekteur).

Foto: Facebook/NC Department of Education

Nuus dat die Gekombineerde Skool Friersdale R.K., tussen Keimoes en Kakamas, verskeie prestasies in die 2024-matriekeksamen behaal het, het “tegelykertyd geskok en verras”.

Nie net het Friersdale se 52 matrikulante ’n 100%-slaagsyfer behaal nie, maar het die skool ook die tweede plek in die Noord-Kaap as ’n topskool behaal. Boonop het die skool die nommer een plek in die ZF Mcgawu-distrik behaal.

Henry Isaacs, adjunkhoof van Friersdale, beskryf die dag toe hy en Francois de Klerk, voormalige hoof wat afgetree het, die uitslae, trofees en sertifikate in Kimberley ontvang het, as besonders.

“Faktore wat bygedra het (tot die slaagsyfer) is dat ons dwarsdeur die jaar moeite gedoen het om leerlinge by alle moontlike ekstra-, intervensie- en Saterdagklasse uit te kry.”

Isaacs sê daaglikse aanmoediging, en die feit dat hulle nooit moed opgegee het om die leerlinge te oortuig dat hulle almal wel kan slaag nie, het ook tot sukses bygedra.

Die Gekombineerde Skool Friersdale R.K. tussen Keimoes en Kakamas.

“Omtrent 95% van ons leerlinge is armlastig. Baie se omstandighede tuis is nie na wense nie. Baie is van die voedingskema afhanklik en sien uit na ’n bordjie kos by die skool.

“Nogtans moedig ons hulle aan en probeer hulle sielkundig oortuig dat die omstandighede waarin hulle nou is, nie hul toekoms bepaal nie.”

Vir vanjaar se matrikulante is Isaacs se raad dat hulle reg van die begin af moet fokus, toegewyd moet wees en studeer om die droom wat hulle vir hulself het, te bewaarheid.

In 2022 het Friersdale ’n 91,1%-slaagsyfer behaal, en in 2023 80%.

Friersdale is ’n openbare skool op privaateiendom van die Rooms-Katolieke kerk en het sowat 800 leerlinge vanaf gr. R tot gr. 12.

  • Inligting op thirstlandepics.co.za handel oor die pioniersendelinge in Namakwaland en omstreke wat ’n groot impak op onder meer opvoeding, geloofspraktyke en toewyding van inwoners gemaak het.

Ene Vader Jean-Marie Simon, met vier ander, het in September 1882 by Pella aangekom. Die bekende Rooms-Katolieke katedraal in dié ongerepte deel van die Noord-Kaap is in 1895 voltooi, en vandaar het verskeie buitestasies tot stand gekom, waarvan Friersdale een in die Keimoes-gebied was.

In 1952 is die kerk en van die klaskamers onder leiding van ene Vader Van den Berg opgerig.

Die beginjare van die Friersdale-buitestasie, met die kerk en verskeie klaskamers.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article