“Met die hitte wat hier is, het die bye aanmekaar by die voëls se waterbak kom water drink,” laat weet Nalene Nel. Die immer besige bye speel ’n geweldig belangrike rol in die wêreld se biodiversiteit en voedsel­sekerheid. Volgens ’n artikel in Arena, ’n publikasie van die landbou-maatskappy NWK, is bye die belangrikste groep bestuiwers omdat hulle meer as 90% van die 107 vernaamste gewassoorte bestuif. Meer as 50 gewasse in Suid-Afrika is van bye vir bestuiwing afhanklik. Sonder hul rol kan gewasse en ander eetbare plantprodukte nie bestuif word nie, en daarom geen voedsel lewer nie. Bye dra só indirek tot werkskepping by. Bye lewer ook ander produkte wat daagliks in gebruik is. Heuning is die bekendste, met byewas wat onder meer in skoonheidsmiddels, kerse en politoer gebruik word. Propolis, ’n harsagtige stof, word vir die behandeling van sekere siektetoestande aangewend. Mense word versoek om water vir bye uit te sit en blomme te plant wat bye lok. Waar ’n byeswerm ’n bedreiging inhou, moet ’n kundige se hulp ingewin word.

Foto: Nalene Nel

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article