Die bekende kleinflaminke wat een van Kimberley se toeriste-aantreklikhede is, is terug buite die stad.
Hulle is egter nie soos gewoonlik op Kamfersdam nie. Weens munisipale lekplekke het die dam te vol geraak en die voëlspesie kan nie aan die alge vreet wat in diep water groei nie.
Ester van der Westhuizen-Coetzer, omgewingspesialis by die Ekapa-myngroep, is sedert 2006 by die bewaring van veral kleinflaminke betrokke, en doen navorsing op die voëls.
Sy en twee kollegas, Marizaan de Jong en Matthew Wessels, omgewingsveldwerkers, het verlede week sowat 4 500 kleinflaminke en enkele kuikens op die pan op die Benfontein-plaas buite die stad getel.
Hulle het die voëls getel, die waterdiepte gemeet en watermonsters vir chemiese analise en algetellings geneem.
Risiko’s soos oorhoofse kraglyne waarteen die voëls bots en ander moontlike gevare is ook aangeteken.
“Die teenwoordigheid van die kuikens sê dat die flaminke êrens naby of dalk op die pan gebroei het. Dit is goeie nuus. Die data word met die betrokke rolspelers wat deel van ’n navorsingsgroep is, gedeel.”
Dit is die eerste grootskaalse navorsingprojek waarin bestaande data uitgebrei gaan word. Benewens Ekapa, is BirdLife South Africa (SA), wetenskaplikes van die Sol Plaatje-universiteit en ’n plaaslike veearts by dié formele navorsingsgroep betrokke.
Die mynmaatskappy betrek ook boere by die navorsingsprojek.
Die oogmerk is om te bepaal op watter plase flaminke gunstige habitatte vind om moontlik te broei en te gedy. Die inligting is belangrik wanneer gerehabiliteerde voëls weer vrygelaat moet word.
“Vir eers sal die navorsing op plase in ’n radius van 400 km rondom Kimberley gedoen word, maar inligting van elders in die land is baie welkom.”
Die eerste plase wat besoek word, is Benfontein en plase tussen Kimberley en Bloemfontein, asook die Christiana-distrik.
Kamfersdam is ’n seisoenale pan, maar is byna twee dekades reeds onder water uit die Homevale-rioolaanleg.
Die dam kan nie alleen vir navorsing gebruik word nie omdat daar so min flaminke is en meer as een of twee navorsingspunte benodig word om data te vergelyk.
BirdLife SA gebruik satellietfoto’s en data om flaminke op panne oor die land heen te tel, en ’n spesiale rekenaarfilter om vas te stel of die blougroenalge waaraan die watervoëls vreet, in die pan groei.
Satellietdata word met die data wat op die grond versamel word, vergelyk om die prentjie vollediger te maak.





