Die 19de jaarlikse Tour de Ghaap, ’n bergfietswedren in twee skofte met ’n roete wat deur ’n deel van die Noord-Kaap strek, het deelnemers weer laat stof eet en bloed sweet.

Bergfietsryers pak die 19de Tour De Ghaap se tweede skof op 10 September aan.

Dié wedren wat deur die Berg-landbou­vereniging vanaf die Ulco-gholfbaan aangebied word, se eerste skof op Saterdag 9 September het oor 75 km gestrek. Op dag twee moes fietsryers 47 km baasraak. Die o.16-fietsryers en die minder fikses ry op dag een 45 km en op dag twee die volle 47 km.

Twee bekendes in die bergfiets-milieu het onderskeidelik as mans- en vrouewenner eerste oor die eindstreep getrap. Die manswenner is Dusty Day van Klerksdorp en die vrouewenner Tanya Roos van Bloemfontein. Die wenner in die o.16-seunsafdeling is Franco van Heerden van Bethlehem.

Die wenner en naaswenners in die vroueafdeling is van links Marisca Steyn (derde), Tanya Roos (wenner), Johanet Heymann (tweede) en Annalie Jansen van die Berg-landbouvereniging.

Pieter Niemann, wedrenorganiseerder, sê die Tour de Ghaap behels ’n uitdagende roete oor ’n terrein met onder meer tweespoor­sandpaaie en klippe. Hy beskryf die byeenkoms as ideaal vir die hele gesin, met ’n fietsren vir kinders. Toenemende fokus word op die o.16-deelnemers geplaas.

In die o.16-seunsafdeling is die wenner en naaswenners van links Ryan van Niekerk (derde), Franco van Heerden (eerste), Theunis van der Linde (tweede) en Pierre Murray van BHG, die prysgeldborg.

Deelnemers en gesinne oornag in ’n goed toegeruste kampterrein in Ulco.

  • Vir meer inligting, die datum vir 2024 se byeenkoms en die volledige uitslae, besoek tourdeghaap.com of die Facebook-blad Tour de Ghaap.

By Annalie Jansen van die Berg-landbouvereniging is die wenner en naaswenners in die mansafdeling. Van links is Johan Botha (derde), Dusty Day (eerste), André van Rooyen (tweede) en Pierre Murray van BHG, die prysgeldborg.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article