Nadat jy in ’n meestal ontoeganklike wêreld ingerol het, wil jy nie boonop die heeltyd “shame” hoor nie.
Dié opmerking van Martelize Brink, radio-omroeper en regisseur by RSG, weerspieël die boodskap van die Yonder Hartsfees.
Brink, van ’n rolstoel afhanklik, was een van die openbare figure wat die afgelope naweek ten tyde van dié fees in Kimberley opgetree het.
Die fees is in 2019 die eerste keer gehou, en ná ’n feesdroogte weens die Covid-19-pandemie is die tweede fees die afgelope naweek deur duisende mense besoek.
Jannie van Zyl, direkteur van die Noord-Kaaplandse Geestesgesondheidsvereniging, waarvan Yonder deel is, sê die opkoms het die feeskomitee se verwagtinge oortref.
“Terugvoering wat ons tot dusver ontvang het, was baie positief,” sê hy.
Teen Dinsdag (30/08) toe NoordkaapBulletin na die rolpers moes gaan, was die uiteindelike getal besoekers nog nie beskikbaar nie, maar Van Zyl sê alle aanduidings is dat dit meer as met die eerste fees was.
By die toegangshek na die Malu-park-feesterrein in Kimdustria het besoekers veral Vrydagaand, asook Saterdag en Sondag, in ’n lang ry vir toegang gewag. Mense was honger vir uitgaan; om stalletjies te besoek en om kunstenaars te sien optree, sê Van Zyl.
Van die kosstalletjies het reeds teen Saterdag al hul voorraad verkoop. Besoekers het wel aangedui dat hulle meer kunsmarkstalletjies op die fees sou wou sien.
Behalwe om aan die gemeenskap ’n fees te bied, dien die geleentheid as ’n geldinsamelingsprojek vir die programme wat vir volwassenes met ’n intellektuele gestremdheid by Yonder aangebied word. By dié sentrum word 260 mense met spesiale behoeftes daagliks in 12 vaardighede opgelei. Elkeen van dié mense was ook by die fees betrokke.
In talle van die nommers op die feesprogram was die fokus op die leefwêreld van enigeen met ’n gestremdheid.
Mathys Roets, een van die talle kunstenaars wat opgetree het, het saam met Brink ’n praatjie oor die wêreld van iemand met ’n gestremdheid gelewer.
Roets, wat 14 jaar gelede in ’n motorfietsongeluk was, is net soos Brink van mening dat mense sonder ’n gestremdheid gereeld vir iemand met ’n gestremdheid wil besluit waartoe hy of sy in staat is, of nie.
Vir Roets was dit belangrik om ná sy ongeluk klein struikelblokke te oorkom; soos om self te kan eet of tande te borsel.
“Moenie vir die een groot ding wag om te gebeur nie; as jy die klein goedjies baasraak, raak dit beter,” meen hy.
“Moet nooit toelaat dat iemand jou in ’n hoek sit nie; moet dit ook nie self doen nie,” het Brink aan die gehoor gesê.
Tinus van Sittert, hoof van die Jannie Brink-skool vir leerlinge met spesiale behoeftes, wat swaksiende is, het vertel dat ’n mens nie vir alles bang moet wees nie en dat ’n mens kanse moet aangryp.
Die seremoniemeester op die geleentheid, Cedric Alexander, bekend as DJ Alex, is ook gesiggestremd.
“As jy in die oggend self kan opstaan en self kan badkamer toe gaan, is jy bevoorreg,” was deel van sy boodskap.
Van Zyl sê die positiewe terugvoering oor die fees maak dit makliker om weer volgende jaar só te doen.
NoordkaapBulletin was die gedruktemediaborg van die Yonder Hartsfees.


