Die voorbereiding vir die derde Yonder Hartsfees is in volle gang. Alle betrokkenes is hard besig om die fees die geleentheid van die jaar in Kimberley te maak.
Die personeel en inwoners werk oortyd sonder betaling, vrywilligers skeep hul gesinne af en diensverskaffers hou nie meer huis met ons nie.
Dit word alles gedoen om ’n fees der feeste in Kimberley aan te bied.
Die doel van die fees is om geld in te samel ten bate van mense wat daagliks met ’n gestremdheid leef.
Hulle doen vaardigheids- en lewensontwikkeling om hulle te bemagtig om in die ope arbeidsmark hul deel by te dra.
Altesaam 37 mense wat met ’n gestremdheid leef, is reeds werksaam in die ope arbeidsmark en vaar baie goed. Hulle verdien hul eie salaris en van hulle ondersteun hul families tuis.
Die Yonder-program is so saamgestel dat, indien die mense wat reeds vaardighede bemeester het weens die ekonomiese toestand in die land nie ’n werksgeleentheid kry nie, daar vir hulle binne Yonder werk geskep word om hul vaardighede te beoefen.
Vroeër vanjaar het vier mense hul werk in die ope arbeidsmark verloor, en was ons in staat om ook vir hulle werk te skep.
Die ander opsie sou wees dat hulle sonder werk by die huis moet wees.
Hierdie geleenthede is beskikbaar omdat die Noord-Kaapse Geestesgesondheid dit vir die mense met ’n gestremdheid moontlik maak deur middel van geldinsameling.
Die fees is so ’n geleentheid waar geld gegenereer word om die organisasie geldelik lewensvatbaar vir die toekoms te hou.
Tans word twee afdelings ontwikkel om verswakte mense met ’n gestremdheid by te staan. Die behoefte vir die versorging van verswakte mense vir 24 uur per dag neem geweldig toe, en die koste hieraan verbonde is baie hoog.
Elke kaartjie wat die besoeker aan die Yonder Hartsfees koop, gee toegang tot al die vertonings op die terrein. Dit word gedoen om soveel as moontlik mense die geleentheid te gee om die ervaring van ’n fees te geniet.
Elke kaartjie wat gekoop word, maak dit moontlik om die doelwit te bereik om geldelik lewensvatbare dienste aan die persoon met ’n gestremdheid te lewer.
- Die Yonder Hartsfees vind van Donderdag 31 Augustus tot Sondag 3 September plaas, en is ’n feestelikheid vir die hele gesin.
- Besoek Yonder Hartsfees op Facebook, en ook op ander sosialemediaplatforms.NoordkaapBulletin is die gedruktemediaborg.
– Jannie van Zyl, feesdirekteur





