Samantha Leonard

Foto: Verskaf

Twee jong sangers wat as “supergewild” en ’n “groot inspirasie” beskryf word, is onder die talle kunstenaars wat dié naweek op die Yonder Hartsfees in Kimberley optree.

Oud-Kimberliet Samantha Leonard en Dodo Nyoka, wat onderskeidelik die wenner en naaswenner van die sangkompetisie Die Kontrak se tweede seisoen is, het albei reeds ’n buiging op talle verhoë gemaak, en spog met verskeie eerbewyse.

Dodo Nyoka

Samantha en Dodo tree Vrydagaand (01/09) onderskeidelik om 20:00 en 21:00 by die Haakbosskerm op die terrein van die Yonder Hartsfees op.

Enige besoeker met ’n toegangskaartjie tot die feesterrein kan dié optredes bywoon, asook dié van ander kunstenaars, insluitend PJ Powers en die Soweto-gospelkoor, wat Saterdagaand optree.

Ander bekende kunstenaars én plaaslike talent kry ook ’n beurt op die verhoog tydens die feesdae wat van Donderdag tot Sondag duur.

Samantha Leonard

Fees ondersteun Yonder-inwoners met ’n gestremdheid

“Die belangstelling in die fees is geweldig groot, en ons is baie opgewonde om dit weer vir die publiek aan te bied,” sê Jannie van Zyl, feesdirekteur, en direkteur van die Noord-Kaaplandse Geestesgesondheidvereniging, waarvan Yonder deel is.

Die Yonder Hartsfees word ten bate van die Yonder-inwoners wat daagliks met ’n gestremdheid leef, aangebied.

By Yonder doen hulle vaardigheids- en lewensontwikkeling om hulle te bemagtig om in die ope arbeidsmark hul deel by te dra.

Altesaam 37 mense wat met ’n gestremdheid leef, is reeds werksaam in die ope arbeidsmark en vaar baie goed. Hulle verdien hul eie salaris en van hulle ondersteun hul families tuis, sê Van Zyl.

Die Yonder-program is so saamgestel dat, indien die mense wat reeds vaardighede bemeester het weens die ekonomiese toestand in die land nie ’n werksgeleentheid kry nie, daar vir hulle binne Yonder werk geskep word om hul vaardighede te beoefen.

Vroeër vanjaar het vier mense hul werk in die ope arbeidsmark verloor, en was ons in staat om ook vir hulle werk te skep.

Die ander opsie sou wees dat hulle sonder werk by die huis moet wees.

Hierdie geleenthede is beskikbaar omdat die Noord-Kaaplandse Geestesgesondheidvereniging dit vir die mense met ’n gestremdheid moontlik maak deur middel van geldinsameling.

Die Yonder Hartsfees is so ’n geleentheid waar geld gegenereer word om die organisasie geldelik lewensvatbaar vir die toekoms te hou.

Tans word twee afdelings ontwikkel om verswakte mense met ’n gestremdheid by te staan. Die behoefte vir die versorging van verswakte mense vir 24 uur per dag neem geweldig toe, en die koste hieraan verbonde is baie hoog.

Elke kaartjie wat vir die fees gekoop word, maak dit moontlik om die doelwit te bereik om geldelik lewensvatbare dienste aan die persoon met ’n gestremdheid te lewer.

PJ Powers en die Soweto-gospelkoor tree by die Yonder Hartsfees op.

Yonder Hartsfees vir die hele gesin

Soos voorheen bied stalletjies produkte te koop aan – van eetgoed tot kuns, speelgoed, handgemaakte ware, huishoudelike produkte en plante, en nog meer.

Boonop sal die pretpark vir kinders, sportgeleenthede en meer besoekers ure lank vermaak.

Vanjaar is die Yonder Experience en Die Spens nuut op die fees, waar die vaardighede van Yonder-inwoners besigtig kan word en van hul produkte te koop aangebied word.

Vrydag om 09:00 vind ’n aanbieding oor bewusmaking van mense met ’n gestremdheid plaas. As deel van die fees begin die interprovinsiale boccia-kampioenskapsbyeenkoms by die Elizabeth Conradie-skool, en dit duur tot Sondag.

Plaaslike kunstenaars tree op en ’n skoonheidskompetisie word onder meer aangebied, met Dodo se optrede om 21:00 wat die dag se program afsluit.

Saterdag om 07:00 begin die para-fietsry­wedren by die Kimberley Junior School, met ’n pretwedloop om 08:00 op die feesterrein. Ollie die Nar, DJ Tom Tom en Carine Beyleveld vermaak die kleinspan om 09:00, en Amore Bekker is die gas op ’n oggendtee-geselligheid om 10:00. Toutrek en bulletjierugby vind plaas, met PJ Powers en die Soweto-gospelkoor, saam met skoolkore, wat om 17:00 optree.

Om 21:00 is dit Nicholis Louw se beurt.

Sondag om 10:00 begin ’n gospel-oggend, met kunstenaars wat tot 13:00 optree.

Kaartjies aanlyn, by die toegangshek, te koop

Van Zyl het sy dank teenoor die Sol Plaatje-munisipaliteit uitgespreek wat die afdraai vanaf die N12 skoongemaak het, en wat ook die duikweg in Kenilworthweg meer toeganklik vir verkeer gemaak het.

Die fees vind weer op Malu-park, die feesterrein van die Noord-Kaaplandse Geestesgesondheidvereniging in Kimdustria, plaas.

Veilige parkering is langs Hendrik van der Biljstraat by die toegangshekke beskikbaar. Vervoer na die terrein kan ook gereël word.

  • Vanjaar kan besoekers al die vertonings van die kunstenaars met hul toegangs­kaartjie bywoon. Goedkoper familiepakkette is beskikbaar, en kaartjies kan ook aanlyn gekoop word.
  • Die feesterrein maak van Donderdag tot Sondag sy hekke om 09:00 oop.
  • Koop kaartjies aanlyn op iTickets, of by die toegangshekke.
  • Besoek Yonder Hartsfees op Facebook vir skakels en die volledige program.
  • NoordkaapBulletin is die gedruktemediaborg van die fees.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article