Terwyl Troeteldierdag op 11 April gevier is, en Nasionale Gidshonddag op 26 April herdenk is, is daar deur die jaar heelwat ander internasionale en nasionale gedenkdae waarop jy jou troeteldier kan bederf.
In Januarie is daar dae om jou hond op te lei, te laat stap en om die ketting van sy nek af te haal. Op 2 Januarie vind Gelukkige Miaau-dag vir katte plaas, en Veilige Reisdag vir troeteldiere. Op 14 Januarie kan jy ’n kostuum vir jou troeteldier aantrek of op 22 Januarie jou kat se vrae beantwoord. Later in die maand is dit Verander-’n-dier-se-lewe-dag en die viering van gidshonde.
In Februarie moet jy troeteldiere verder oplei, hul gesondheid en tande nagaan en hulle laat steriliseer. Ander vieringe in Februarie is Romantiese Afspraakdag vir jou honde, en ’n dag om jou troeteldier te beskerm sodat hulle nie gesteel word nie. Jy kan saam met jou dier gaan stap en oefening doen en agterna saam met hom of haar verskillende hondebeskuitjies beoordeel.
In Maart moet jy bedag wees dat jou hond of kat vergiftig kan word en voorsorgmaatreëls daarteen tref. Diereoppassers moet ook geloof word vir hul goeie werk. Veteraanpolisiehonde moet vereer word. Katte sal ook aandring op ’n bietjie respek op 28 Maart – asof hulle dit nie daagliks doen nie.
In April moet diere-eienaars help om bewustheid oor wreedheid teenoor diere te verbeter, hul kennis van noodhulp vir diere opskerp en diere-siektes help bekamp. Jou diere kan ook dan ’n identifikasie- of mikroskyfie kry. In ander lande word eienaars wat hul honde se ontlasting op straat optel, bedank. Plaasdiere word ook in April vereer. Die terapie wat diere aan mense verskaf, word op 30 April gevier. Dit is ook die Neem-?-dier-aan-dag.
In Mei kan jy opregte en straatbrakke teen jou hart vasdruk. Dit is Nasionale Troeteldiermaand waarin mense bewus gemaak word dat telers nie altyd eties optree om opregte hond- of katrasse te teel nie. Op 20 Mei word honde wat gered en aangeneem is, ekstra trakteer.
In Junie word die aanneming van katte herdenk, terwyl mense ook dieretuine en akwariums moet besoek om meer van die dierewêreld te leer. Op 20 Junie kan jy jou kat en op 24 Junie jou hond werk toe vat, of jy en jou hond kan aan die lelikste dier-kompetisie deelneem. Spieëltjie spieëltjie aan die wand…
Terwyl dit in die noordelike halfrond somer is, moet mense hul hondehokke regmaak, sorg dat hul diere genoeg water het en nie wegraak wanneer vuurwerke afgevuur word nie. Maak seker dat jy op 11 Julie ’n foto van jou en jou troeteldier neem.
In Augustus moet diere ingeënt word as hulle nie reeds is nie. Op 4 Augustus moet jy so hard soos ’n hond werk. Swart katte word op 17 Augustus bewonder en nie gevrees nie. Vat jou troeteldier op 22 Augustus na die veearts. Jy moet ook in dié maand probeer om rondloperdiere te red.
In September moet jy jou hond se versekering nagaan vir veeartsbesoeke en bewus wees van diere wat ook in pyn verkeer. Bedank die persoon wat met jou hond gaan stap. Dowe honde word ook in September en troetelvoëls op 17 September bederf. Op 28 September is Wêreldhondsdolheiddag waarin jy moet verseker dat jou dier ingeënt is. Honde in die politieke wêreld word ook vereer.
Is daar enige in Suid-Afrika?
In Oktober moet jy jou swart hond teen jou hart vasdruk. Op 4 Oktober is Wêrelddieredag, en 16 Oktober Wêreld-kat-en-rondloperkatdag. Jy moet jy jou kat en hond weeg om te sien of hulle te vet is of nie.
Jou bejaarde dier moet in November meer aandag kry. Gaan na die Dierebeskermingsvereniging (DBV) of ander skuiling en bedank hulle vir hul goeie werk. Kook ’n gesonde ete vir jou diere.
Dit is Internasionale Diereregtedag op 10 Desember. Suid-Afrikaners moet hul diere goed versorg laat wanneer hulle met vakansie gaan. Wees bedag op vuurwerke en die skade wat dit aan verskrikte diere aanrig. Besoek die DBV om jou vermiste dier te soek, of neem ander diere aan.
– Bron: dailypaws.com




