Meer as twee jaar nadat die land onder streng inperkingsmaatreëls weens die Covid 19-pandemie geplaas is, kon Neels Coertse van die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika (GSSA) die Goue Banier-eerbewys aan die Ekapa-mynmaatskappy in Kimberley ter ere van hul bewaringswerk oorhandig. 

Die oorkonde is aan Howard Marsden, mynbestuurder, oorhandig nadat die mynmaatskappy die Du Toitspan-begraafplaas ‘n paar jaar gelede skoongemaak en opgeknap het en steeds onderhou. Die munisipale begraafplaas is op die mynterrein geleë. Van Kimberley se eerste en mees bekende inwoners is in die begraafplaas ter ruste gelê. 

Die mynmaatskappy het destyds kenners ingeroep om navorsing te doen. Werkers het ook gras en bome gesny, grafstene skoongemaak, grond wat oor die grafte gelê het uitgesuig en ou paadjies hernuwe en met wit klippe uitgelê. 

Coertse, toe nog die voorsitter van die Wes Gauteng-tak van die GSSA wat ook sitting op die nasionale raad het, sê hy is vroeg in 2020 deur ‘n ander tak van die GGSA genader om hul nominasie te bevestig. 

“Toe ek hoor watter besondere werk gedoen is om die grafte en genealogiese inligting te bewaar het ek my eie motivering vir die oorkonde geskryf,” vertel hy. Die nasionale uitvoerende komitee het by ‘n algemene jaarvergadering die Goue Banier-eerbewys vir die mynmaatskappy goedgekeur. 

“Begraafplase is saam met kerkregisters en familiebybels hoog op ons lys van genealogiese hulpbronne. Ons neem gereeld foto’s van grafstene in begraafplase wat ons op ‘n webwerf publiseer. Dit word internasionaal vir navorsing benut.”
Neels Coertse

Coertse, deesdae die redakteur van die Die Delwer/The Digger-nuusbrief, sê gewoonlik vereer hulle meesal GGSA- lede. 

“Die goeie werk van individue en organisasies wat nie lede is nie, gaan egter nie ongesiens verby nie. “Ek sou self na Kimberley gereis het om die eerbewys te oorhandig, maar die streng inperking het ‘n stok in die wiel gesteek. Ek en my vrou, Annemarié, het in Maart vanjaar na Kimberley gereis om die oorkonde te oorhandig, wat ‘n belewenis was. Ek was oorweldig deur die omvang van die bewaringswerk en die museum wat die myn het. Ons het nie werklik besef wat die opknappingswerk alles behels het totdat ons die begraafplaas saam met Marsden en Ester van der Westhuizen-Coetzer, omgewingspesialis, besoek het nie.”

Hy het interessante grafte soos die van Daisy de Melker se familie, asook die van Henry Boyes, een van die land se eerste Springbokrugbyspelers ontdek. Kindergrafte het hom aan die hart geruk.

“Hoewel ek die koerier van die eerbewys was, is daar ‘n hele span mense wat ek bedank vir hul ondersteuning om die oorhandiging te doen.”

Coertse het as ‘n bonus interessante myntoerusting in die museum gevind. 

“Marsden het self die Mercury Arc Rectifier in een van die myntonnels ontdek. Dit is ‘n glasinstrument wat blykbaar vir donkiejare diep onder die aarde gebêre is. Dit is diep onder in die myn gebruik om die elektriese stroombaan te verander. Dit is ‘n wonder dat dit behoue gebly het, want myners is nie die mees delikate mense op aarde nie. ‘n Vriend, wat ‘n elektriese ingenieur is, meen die elektriese apparaat is eenkant vir veiligheidsredes geïnstalleer.”

Ekapa

Neels Coertse (links) oorhandig die Goue Banier-oorkonde aan Howard Marsden vir die bewaringswerk in die Du Toitspan-begraafplaas.
Ekapa

Annemarié en Neels Coertse in die mynmuseum van die Ekapa-mynmaatskappy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article