Estelle van Aarde is Solidariteit Helpende Hand se Noord-Kaapse Hoopdraer. Van links is Van Aarde, Somé Ferreira (streek- maatskaplike werker by Solidariteit Helpende Hand) en Adele Rossouw (Solidariteit Netwerk-organiseerder).

Foto: Verskaf

Estelle van Aarde, ’n Noord-Kaapse streekwenner van Solidariteit Helpende Hand se Hoopdraers-veldtog, sê die eerbewys beteken vir haar baie omdat die werk wat sy doen só erkenning geniet.

Van Aarde, ’n maatskaplike werker by die Kumba Sishen-myn, is deur haar kollegas benoem en het nie geweet dat sy ’n streekwenner is nie.

“Ek is na ’n vergadering genooi, waar ek die nuus gekry het. Ek bedank my man, Smittie, want ons is ’n eenheid. Wanneer ek uitgeroep word, ondersteun en sorg hy dat sake by ons huis glad verloop in my afwesigheid.”

Die eerbewyse is op 19 Maart op Internasionale Maatskaplikewerkersdag gelyktydig aan 12 maatskaplike werkers oor die land heen toegeken.

Estelle van Aarde is Solidariteit Helpende Hand se Noord-Kaapse Hoopdraer. Van links is Van Aarde, Somé Ferreira (streek- maatskaplike werker by Solidariteit Helpende Hand) en Adele Rossouw (Solidariteit Netwerk-organiseerder).

Die oogmerk van Solidariteit Helpende Hand en die Solidariteit se Beroepsnetwerke se veldtog is luidens ’n verklaring, om “die onbaatsugtige werk van maatskaplike werkers wat die stille bouers van hoop in die samelewing is, te vier”.

“Ek sien om na personeel en hul gesinne se emosionele, fisieke en geestelike welstand. Die mynbedryf lyk ongenadig van buite, maar dit is steeds mense wat daar werk. Ons leef die waardes van sorg en respek met ons werknemers se gesondheid uit.

“Die myn bied verskeie dienste aan wat gratis beskikbaar is om ons mense tevrede te hou. Die dienste behels onder meer primêre gesondheid, finansiële raad, dieetkundige dienste of hantering van maatskaplike probleme by die huis.”

Beroep ‘n roeping

Christia Potgieter, hoof van die Solidariteit Helpende Hand se Maatskaplikewerkdienste-afdeling sê vir maatskaplike werkers is hul beroep ’n roeping.

“Ontvangers is vroeër vanjaar deur die publiek benoem vir hul passievolle toewyding en die bevordering, herstel en verbetering van maatskaplike funksionering in hul gemeenskap.

“Die eerbewyse is ’n simbool van waardering en ’n huldeblyk aan individue wat die ekstra myl loop om ander te ondersteun. Hulle help mense ontwikkel sodat gemeenskappe gesond funksioneer. Die 12 maatskaplike werkers het ’n verskil gemaak en diep spore van hoop en ’n positiewe verandering by die diegene wat hulle gedien het, gelaat,” sê Potgieter.

Die hoopdraers is: Janetta Uys van Mookgophong; Tarina Hattingh van Secunda; Van Aarde; Nuansa Vogel van Klerksdorp; Mariza Kitching van Amanzimtoti; Alida Jooste van Alberton; Nicky McDonald en Suzanne van Deventer van Pretoria; en Claudia-Lee Hunter van Centurion.

Yvette Erasmus, netwerkorganiseerder van Solidariteit se Beroepsnetwerke sê hul netwerk vereer, waardeer en bewonder maatskaplike werkers vir hul unieke toewyding en passie.

“Te midde van swaar werksladings en emosionele uitbranding bly hulle vasberade om ’n positiewe invloed the hê.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article