Dagga met ’n geraamde straatwaarde van R1,1 miljoen is Saterdag (03/06) by twee mans gevind wat by ’n bekende duimgooiplek in Kakamas gewag het.
Sers. Kallie Kalamore en konst. KG Mkhafu van die polisie in Kakamas het reageer op inligting ontvang. Volgens kapt. Nelis Prins, woordvoerder van die polisie, is die sakke van die mans deursoek en verpakte dagga gevind.
Die mans, 25 en 35 jaar oud, is op aanklag van handel in dagga in hegtenis geneem, en sou in die Kakamas-hof verskyn.
In ’n ander voorval is twee mans, 39 en 43 jaar oud, oor die naweek in die Upington-omgewing in hegtenis geneem vir die besit van Mandrax-tablette en khat met ’n waarde van R50 100.
Sers. Omphile Masegela, polisiewoordvoerder, sê die mans is om 02:00 gestop weens roekelose bestuur.
Met die deursoek van die voertuig het hulle op die dwelms afgekom.
Altwee sou in die hof verskyn het.



