Die besef dat gewone mense kan opstaan en wonderlike dinge vermag.
Dit is een van die waarhede wat ds. Andreas van Rooyen, predikant van die NG kerk Boshof, die afgelope ses jaar in dié klein Vrystaatse dorpie naby die Noord-Kaap-grens geleer het.
Van Rooyen, wat Sondag (12/03) sy afskeidspreek gelewer het, het ’n beroep na die NG kerk Oberholzer in Carletonville aanvaar.
Mense van die Boshof-omgewing het diep in sy en sy gesin se harte gekruip. Maar nou is “ses jaar se saam werk, saam lag, saam huil verby”.
“Dit is moeilik om totsiens te sê vir ’n plek waar mens saam gebid het vir reën, saam dankie gesê het wanneer die reën kom; waar ’n mens saam geveg het teen brande, saam magteloos moes toekyk hoe plase afbrand, en saam met vreugde gaan kyk het hoe die Here se genade die veld herstel het,” skryf hy op sy Facebook-blad.
Van Rooyen en sy vrou Gerda-Marié, seun Hendré (8) en dogter Aliné (4) is tog opgewonde oor die nuwe geleenthede in ’n nuwe plek.
“ ’n Nuwe omgewing en nuwe mense en al die pret en uitdagings wat daarmee saam gaan. Dit is nader aan ’n groot deel van die familie. Dit gaan lekker wees dat die kinders hul niggies en nefie meer as een keer ’n jaar kan sien,” sê hy.
Van Rooyen se doelwit is om steeds met sy gawes en talente te werk en hopelik ’n positiewe verskil te maak.
“Ek droom daaroor om ’n boek klaar te skryf en te publiseer, maar sit met drie halfgeskrewe manuskripte wat stof opgaar,” vertel hy. Tog sal die talle stokperdjies wat hy beoefen, verhoed dat sy talente stof opgaar.
“Ek lees ongelooflik baie. Fiksie en nie-fiksie, vir ontspanning meestal Urban Fantasy. Ek brou bier en maak op ’n baie klein skaal wyn, ongeveer vier liter op ’n slag – meestal in die lente en somer.”
Hy sê dit is ’n fassinerende proses, van hoe verskillende bestanddele soveel smake en geure kan lewer.
In die winter is houtwerk en jag van sy stokperdjies. Hy en Gerda-Marié oefen drie tot vyf maal per week in die gimnasium, en neem aan Instagram-fotografie-uitdagings deel.
Van Rooyen, wat “eintlik oral grootgeword het” – vanaf Franschhoek, Bloemfontein, Volksrust, Perdekop, Empangeni, Secunda en Dundee – het vir Gerda-Marié as student by die Universiteit van die Vrystaat ontmoet toe hulle by ’n navorsingsprojek betrokke was. As ’n student het hy as tolk tussen Afrikaans en Engels by klasse en vergaderings opgetree.
“Ek praat Afrikaans en Engels vlot, lees met goeie begrip Duits en Nederlands, kan met ’n woordeboek Latyn, Bybelse Hebreeus en Bybelse Grieks lees. Zulu, Sotho en Ndebele kan ek ‘hello’ sê en vra hoe dit gaan, maar nie veel meer nie.”
As ’n pa wil hy dit graag by sy kinders tuisbring om jouself te wees.
“Dit is beter om ’n goeie weergawe van jouself te wees as ’n swak kopie van iemand anders. Elkeen van ons is in staat om soos ons is ’n goeie bydrae in die samelewing te maak.
“Daarmee saam, wees sover moontlik beleefd, en hanteer almal soos jy graag hanteer sou wou word.”


