Die Magareng-munisipaliteit in Warrenton kon nie personeel en raadslede op die laaste Vrydag van die maand hul Januarie-salaris betaal nie omdat die instelling se geld glo opgeraak het.

Dit is aldus ’n verklaring van die DA, waarin Dirk Stubbe, kiesafdelingshoof van Diamant-Noord, sê dié situasie kom drie maande ná die party gewaarsku het oor die kritieke geldelike toestand van die munisipaliteit. Dié party het in November ’n beroep op die departement van samewerkende regering gedoen om so ’n krisis te help voorkom.

Magareng-raadslede is glo twee weke gelede in kennis gestel dat daar nie geld vir salarisse is nie.

Stubbe het Dinsdag (31/01) vroegmiddag gesê dat inligting pas ontvang is dat die salarisse “vandag” betaal is.

Dit is onseker waar die munisipaliteit die geld gekry het.

Vorige maande is geld wat vir dienslewering bedoel is, gebruik om personeel te betaal omdat die munisipaliteit se bankrekening glo sy oortrokke limiet bereik het.

Om dié redes hang betalings aan diensverskaffers ook nou in die weegskaal. Niks het gekom van ’n verbintenis deur die munisipaliteit einde verlede jaar om sy skuldinvordering en kredietbeheerbeleid in werking te stel nie.

Op 30 September was R355,6 miljoen aan die munisipaliteit verskuldig – dit is geld wat nie ingevorder word nie. Hiervan word R10,2 miljoen deur staatsinstellings geskuld, R23,6 miljoen deur sakeondernemings, met die grootste gedeelte van R320,2 miljoen wat deur huishoudings geskuld geword. Die bedrag het intussen vermeerder.

Intussen stel die party ’n “Maand van Aksie” vir die vuil Dikgatlong-munisipaliteit voor. Delmaine Christians, kiesafdelingshoof van Diamant-Suid, sê die munisipaliteit se versuim om Barkly-Wes se afval te bestuur, het tot ernstige verval gelei.

Vullisverwydering vind ongereeld plaas, en in die middedorp word dit maande lank nie gedoen nie. Haweloses gebruik die rommel om in die dorp vuur te maak. Dit hou ’n bykomende gesondheids- en veiligheidsbedreiging in, sê Christians.

’n Groot agterstand bestaan ook met die dreinering van rioolstelsels. Toegegroeide paaie in nedersettings verhoed dat riooldreinering in die gebiede plaasvind, en riool vloei gevolglik in die strate.

“Dikgatlong word deur ’n krisis in die gesig gestaar. Die situasie benodig dringende aandag voordat dit nog verder buite beheer raak,” sê sy.

Die party beplan vir Februarie ’n massa-opruimingsveldtog in die dorp.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article