Opposisiepartye meen Kimberley se waterinfrastruktuurprobleme en watertoevoertekorte wat inwoners op Sondag 8 Oktober onverhoeds betrap het toe krane heeldag droog was, kan tot ’n algehele ineenstorting lei.
Politieke partye het ná die jongste probleme met die Sol Plaatje-munisipaliteit se lekkende grootmaattoevoerwaterpype hul onvergenoegdheid oor swak kommunikasie met inwoners en ondeursigtigheid oor die werklike stand van sake te kenne gegee.
Johan Smit, VF Plus-raadslid gemoeid met infrastruktuur, sê die vier opgaardamme by die Newton-aanleg hou onderskeidelik 23 megaliter, 45 megaliter, 91 megaliter en 102 megaliter water. Die 102 megaliter is die bufferdam wat gebruik word wanneer daar probleme is. Die ander drie word daagliks gebruik.
“Die lekplekke het Vrydag ontstaan en moes reggemaak word. Die watertoevoer vanaf die Riverton-onttrekkingsaanleg na Newton was daarom afgesluit. Teen Sondagaand was drie van die opgaardamme leeg, die eerste keer in 20 jaar dat ek as raadslid betrokke is. Die 23 megaliter het net ’n bietjie water gehad. Die 102 megaliter het op 9,5 voet gestaan; dit is op 15 voet wanneer dit vol is.
“Nadat die lekplekke herstel is, is die pompe by Riverton eers Sondagmiddag laat aangeskakel en water na Newton gepomp. Dit neem sewe tot tien uur om die opgaardamme te vul. Teen Maandagoggend het die kleinste opgaardam genoeg water gehad om inwoners drupsgewys water te gee.
“Wat inwoners nie weet en wat die munisipaliteit nie sê nie, is dat die netwerk al Vrydag begin leeg loop het toe water nie meer na die stad gepomp is nie. Niemand is vooraf gewaarsku nie. Inwoners was onkant gevang en teen Sondagmiddag het winkels byna nie meer watervoorraad gehad nie.
“Die munisipaliteit se kommunikasie is uiters swak en niemand glo die verklarings wat wel uitgestuur word nie; dit bevat nie volledige inligting nie. Dit is van nul en gener waarde, niemand weet wat eintlik by die munisipaliteit aangaan nie.
“Maandag het ek langs die waterpypleiding gery en gesien die nuutste lekplekke op die grootmaatwaterpype is herstel. Die ou pype is vrot, en nuwe lekplekke ontstaan gereeld. Die hoeveelheid kiloliters gesuiwerde water wat uit die netwerk in die veld dreineer word om lekplekke te kan regmaak, is skokkend. Dit verklaar waterverliese van 60%.”
Smit sê omdat elektriese kleppe by Riverton ook herstel is, is water nie voortdurend gepomp nie.
“Die armste mense ly die meeste. Die munisipaliteit het geen watertenks na arm gemeenskappe uitgestuur om water te voorsien nie.”
Chris Whittaker, DA-raadslid, sê die munisipaliteit moet meer doen om ’n algehele ineenstorting van watervoorsiening te voorkom. Hy en Ockert Fourie, mede-DA-raadslid, het verlede week oorsiginspeksies gedoen.
“Die munisipaliteit versuim om voldoende gesuiwerde water vir die vraag te voorsien. Hoewel die lekplekke reggemaak is, is dit net ’n gedeeltelike oplossing. Slegs drie van die 12 filters by die ou Riverton-watersuiweringsaanleg werk.”
Daar word nie voldoende volume gesuiwerde water na Kimberley gepomp nie. Die opgaardamme en druktoring by die Newton-aanleg is leeg.Dit is ’n ernstige situasie gegewe uiters hoë temperature en gevolglike hoër waterverbruik, sê hy.
“Hoewel die stadsbestuurder sê daar gaan aansienlike herstelwerk in Desember wees, wil die DA weet hoekom die munisipaliteit so lank wag om die volgende herstelwerk te doen om ’n waterramp te voorkom.
“Temperature in Desember is hoog, en besoekers gaan na die stad stroom. Herstelwerk om watervoorsiening te verbeter moet vroeër gedoen wees.
“Die stadsbestuurder moet ’n waterkrisistoonbank stig wat Kimberliete daagliks op die hoogte hou van watervlakke. Inwoners moet die erns van die situasie begryp, en waterbeperkings of ongeskeduleerde afsluitings wat op kort kennisgewing ingestel word, kan hanteer.”
Whittaker sê die munisipaliteit moet deursigtig wees oor die waterkrisis en inwoners se ondersteuning kry om Kimberley se jarelange waterkrisis veilig en doeltreffend op te los.
Thoko Riet, munisipale woordvoerder, sê daar was drie lekplekke op die hooftoevoerwaterpypleiding wat dringend herstel moes word.
“Ons moes dit doen om te verhoed dat die Newton-opgaardamme leegloop. Die herstelwerk is tussen Vrydagaand en Saterdag gedoen, en ons het kennisgewings aan inwoners gestuur. Ons het die watertoevoer Sondag herstel, en mense in sekere gebiede het water gehad, of watertoevoer met lae druk.”
Die munisipaliteit moniteer die watervlakke in die opgaardamme, wat besig is om te styg. Omdat daar watertoevoer is, stuur hy nie watertenks uit nie.
Intussen is die R2 miljard-projek om die ou waterinfrastruktuur te vervang, in werking gestel. Die verkrygingsafdeling is besig met tenderprosesse.





