Die mensdom oor die aardbol heen het gewoontes wat nadelig vir die planeet is, en die resultaat van dié gewoontes word reeds beleef, en gaan nog erger vir toekomstige geslagte wees.
Op Saterdag (22/04) word die 53ste Wêreld Aardedag gevier, ’n dag waarop aardbewoners veral moet nadink oor hoe hulle die nadelige gewoontes moet verander om die planeet van klimaatsverandering te red.
Volgens Earthday.org, wat pa staan vir Wêreld Aardedag, is vanjaar se tema “Belê in ons planeet”.
Elke regering, organisasie, onderneming en individu moet verantwoording kan doen.
Kathleen Rogers, voorsitter van Earthday.org, sê ons moet in die planeet belê, want ons dade gaan nog vir honderde jare gevoel word.
“Ons moet die gebruik van fossielbrandstowwe en ander ou tegnologie uitskakel om ons planeet en plant- en dierspesies te red en steeds geleenthede vir die mens in groen energie skep.”
Terwyl ondernemings veranderinge moet meebring en praktyke verander, moet regerings die klimaat en raamwerke skep waarbinne innoverende en volhoubare ekonomieë geskep kan word.
Individue kan elke dag iets doen om die aarde se gesondheid te help verbeter.
- Earth Day stel voor mense plant bome en lê ’n stukkie tuin aan waar bye, vlinders en ander insekte blomme kan bestuif.
- Plant jou eie groente en skep ’n habitat vir voëls in jou tuin. Tuinwerk verminder boonop stres
- Gebruik minder plastiek in jou huis. Skaf duursame klere aan wat lank hou, eerder as om modegiere slaafs te volg.
- Bied jou eie Aardedag-byeenkoms aan om die boodskap in jou gemeenskap te versprei. Wees aktief op sosialemediaplatforms en lig mense in oor wat Aardedag is. Hou ’n byeenkoms en sit baniere op.
Die webwerf van Global Citizen het ook voorstelle:
- Gebruik minder elektrisiteit van fossielbrandstof en meer klimaatsvriendelike bronne van energie.
- Maak minder gebruik van die lugversorging.
- Moenie tuimeldroërs gebruik nie, hang jou klere aan ’n wasgoedlyn.
- Was jou klere in koue water.
- Moenie kos mors nie, wees skeppend met oorskietkos en maak sop van oorskietgroente. ’n Derde van alle voorbereide kos word uiteindelik weggegooi. Nie net is daar honger mense wat die kos kan benut nie, maar weggooikos veroorsaak kweekhuisgasse.
- Wees ’n vegetariër een dag van die week. Die vleisbedryf hou groot gevolge vir klimaatsverandering in.
- Gebruik een herbruikbare bottel vir drinkwater, eerder as om gedurig plastiese waterbottels te koop.
- Vra jou diensverskaffers om rekeninge elektronies te stuur, eerder as op papier wat per vliegtuig of voertuig vervoer moet word. Vermy gemorspos so ver as moontlik.
- Maak toerusting soos ’n stukkende ketel reg, eerder as om ’n nuwe een te koop.
- Ry minder rond. Gebruik ’n fiets of stap winkel toe.
Vir meer inigting en wenke oor hoe om jou eie Aardedag te hou, besoek die webwerf earthday.org




