Die Verkiesingskommissie (OVK) vra dat kiesers ouer as 60 jaar nie deur ’n slenter bedrieg moet word wat beweer hulle kan op die twee dae voor 29 Mei stem om lang rye te vermy nie. ’n Plasing wat só ’n boodskap in Engels uitdra, het op WhatsApp-groepe die ronde gedoen.
Hiervolgens kan dié mense hul identiteitsnommer per SMS stuur om aansoek te doen.
Kate Bapela van die OVK sê dié boodskap versprei fopnuus. Volgens die OVK kon kiesers van 15 April af aansoek doen om spesiale stemme uit te bring.
Die spertyd hiervoor is Vrydag 3 Mei. Die OVK sal huisbesoek doen by mense wat fisiek nie in staat is om te gaan stem nie.
Doen aansoek op elections.org.za vir ’n spesiale stem.



