’n Forensiese ondersoeker kon geen DNS van ltumeleng Machabe Bendow (25) aan die liggaam van een van die slagoffers vind nie.
Bendow staan in die hooggeregshof in Kimberley tereg op 19 aanklagte wat moord, verkragting, poging tot moord, die toon van pornografie aan minderjariges, crimen injuria en poging tot afdreiging insluit.
Die verdagte het glo ook jong skoolmeisies in Kimberley op sosialemediaplatforms om die bos gelei om naakfoto’s van hulself te deel waarmee hy hulle dan glo afgedreig het om meer eksplisiete foto’s en video’s te stuur.
Die afdreiger wat voorgegee het hy is ’n gay skoolmeisie, was destyds inderdaad ’n 22-jarige man, voer die staat aan.
Bendow ontken al die aanklagte teen hom en voer aan van die meisies het toestemming tot seks gegee.
Hy is aangekeer ná die verkragting en moord op Relebohile Segami (11) in Maart 2022.
Gemeenskapslede was geskok ná die ontdekking van haar lyk in die veld agter die Noord-Kaapse wetgewergebou, waarna hulle protesoptogte by die hof gehou het waar Bendow van haar moord aangekla is.
Adj. Clarissa Muthakarapan van die polisie se forensiese laboratorium het op Vrydag 27 Oktober getuig sy het monsters van Segami se lyk en klere geneem. Sy kon nie genoegsame DNS van Bendow aan die meisie se vingernaels of geslagsdele vind nie. Verduidelikings vir die gebrek aan genoegsame spermselle vir ’n DNS-monster is dat die verdagte moontlik impotent is, ’n kondoom gebruik het of elders ejakuleer het.
Die DNS aan die serp waarmee die meisie verwurg is, het aan die meisie behoort, hoewel ander onïdentifiseerbare DNS ook aan die materiaal was.
Segami se halfbroer, Monnalule Mokgale, het vroeër verlede week getuig hoe hy een van die eerste mense op die toneel was waar haar lyk gevind is nadat sy die dag tevore vermis geraak het. Hy, sy ma en vier sibbe is bekend met Bendow, wat hy as ’n vriend beskou het.
Bendow word ook aangekla van die verkragting van Mokgale se vriendin in Desember 2021. Die meisie was destyds 15 jaar oud.
Volgens Mokgale het hy haar daardie aand by ’n taverne ontmoet en is hulle na sy huis waar hulle seks gehad het.
Bendow, vergesel deur twee ander meisies, het aan sy deur geklop. Die twee meisies was ontevrede omdat Bendow beloof het om hulle huis toe te neem en is per huurmotor huis toe. Bendow het oorgeslaap.
Terwyl al drie op die bed gelê het, het Bendow probeer om met die meisie seks te hê. Hy en Mokgale het byna handgemeen geraak en die bure is ontbied om die mans te kalmeer.
Daardie oggend het Mokgale gesê hy moet werk toe loop en Bendow en die meisie het hom vergesel.
Op ’n tydstip het Bendow vir Mokgale gedreig en gesê die meisie moet saam met hom terugkeer. Mokgale was onseker, maar die bevreesde meisie het ingestem om by Bendow te bly. Die staat voer aan Bendow het dié meisie etlike kere in die veld verkrag.
Nog ’n getuie, ’n ma van ’n meisie (toe 13) wat in Julie 2013 verkrag is, het getuig hoe sy haar dogter een nag huilend in die straat gevind het nadat sy nie huis toe gekom het nie.
“Ek het haar ná 22:00 gaan soek en huilend in die straat aangetref. By die huis het sy my vertel die beskuldigde het haar in die veld verkrag.
“Sy en haar vriendinne was by ’n kuierplek. Die beskuldigde, wat voor my grootgeword het, het haar oortuig om saam met hom te loop om ’n selfoon êrens te gaan haal. Op pad soontoe het hy haar verkrag.”
Sy en haar dogter het die saak dadelik by die polisie aangemeld, maar twee jaar later teruggetrek omdat dit gesloer het.
“Die verhoor is aanmekaar uitgestel. Dit het haar skoolwerk in so mate beïnvloed dat sy gedruip het.”
Adv. Adele van Heerden kla aan en adv. Sakkie Nel tree namens die beskuldigde op.
Die saak voor regter Cecile Williams duur voort.





