Die twee o.18-rolbalspanne van die Noord-Kaap is van links, voor: Nadine Keulder, Kieran Kelly, Eben Kock, Hanna Rowan en Keagan Minopetros Credit: SYSTEM

Die lede van die twee Noord-Kaapse o.18-spanne wat aan die Suid-Afrikaanse junior rolbalkampioenskap deelgeneem het, beskou dit as ’n goeie leerskool en motivering om meer toegewyd vir toekomstige byeenkomste te speel.

Dié Noord-Kapenaars was onder die sowat 259 jeugdiges wat verlede week aan die kampioenskap by die Orangia-rolbalklub in Bloemfontein deelgeneem het.

Die 62 spanne het 18 provinsiale distrikte in die o.15-, o.18- en o.25-afdeling verteenwoordig.

Die span van die Westelike Provinsie is die kampioen in die o.25-afdeling ná ’n eindstryd teen Noordwes. By die o.18’s het Sedibeng en Boland in die eindstryd meegeding, met Sedibeng wat as wenner gekroon is. Die Sables is die kampioen in die o.15-afdeling ná ’n stryd teen Westelike Provinsie.

Jacques Swanepoel, komiteelid en Noord-Kaapse ontwikkelingsbeampte, sê die junior Noord-Kaapse rolbalspelers kry nie gereeld die geleentheid om saam met so ’n klomp jeugdiges te speel nie, en deelname aan die kampioenskap is vir hulle ’n ideale geleentheid om dit te kan doen.

Hy is verheug dat rolbal nie meer as ’n sportsoort net vir ouer mense beskou word nie. Deelnemers van so jonk soos sewe jaar het aan die kampioenskap deelgeneem.

Swanepoel meen ook dit is baie positief vir rolbal as sport dat al hoe meer skole aan rolbalspelers erkenning vir hul prestasies gee, en sommige skole ken selfs erekleure toe aan uitblinkers in dié buitesportsoort.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article