Dr. Dion Theys, die omstrede hoof van die Noord-Kaapse departement van gesondheid, se appèlaansoek teen sy skuldigbevinding en vonnis van oortredings van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur (PFMA) is verlede week in ’n skerp bewoorde uitspraak deur die hooggeregshof in Kimberley verwerp.
Theys is in Augustus 2023 in die streekhof deur landdros Vernon Smith skuldig bevind. Hy is ’n vonnis opgelê van ’n boete van R150 000 of drie jaar gevangenisstraf, waarvan R100 000 of twee jaar gevangenisstraf vir vyf jaar opgeskort is, op voorwaarde dat hy nie aan dieselfde oortreding skuldig bevind word gedurende die tyd van skorsing nie.
Theys het in die tydperk 2009 tot 2012, toe hy ook die waarnemende Noord-Kaapse departementshoof was, oortredings van die PFMA begaan. Hy het drie oorvleuelende kontrakte vir studenteverpleër-verblyf van R13 miljoen met Hoffe Park aangegaan sonder dat enige verkrygingsprosedures gevolg of amptenare van die betrokke afdeling by die proses betrokke was.
Theys het die vereistes van afwykings van die verkrygingsproses omseil en nie die kontrakte vooraf adverteer om mededingende aanbiedings te verkry nie. Die verkryging van verblyf was nie dringend noodsaaklik nie. Boonop het hy nie die afwykings by die Tesourie aangemeld nie.
Ingevolge die aankoopvereistes moet goedere of dienste van meer as R500 000 op tender uitgesit word, tensy daar ’n noodgeval, dringendheid of net een diensverskaffer beskikbaar is. Ingevolge wetgewing moet die drie sfere van regering verseker dat besteding aan goedere en dienste regverdig, billik, deursigtig en mededingend is om vrugtelose, ongemagtigde en onreëlmatige uitgawes te voorkom.
Adjunk-regter-president Violet Phatsoane stem in haar uitspraak saam met streekslanddros Smith dat Theys as rekenkundige beampte uitermatig nalatig was. Hy kon nie in sy getuienis bevredigend verduidelik hoekom die kontrakte oorvleuel, hoekom een kontrak op Oukersdag onderteken is en hoekom kontrakte eers onderteken is nadat dit ’n aanvang geneem het nie. Daar was ook geen diensooreenkoms met Hoffe Park om die volgehoue gehalte van wasgoed, skoonmaakdienste, internettoegang en drie maaltye te verseker nie.
In sy appèlaansoek het Theys aangevoer die Valke, polisie en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) kan nie strafregtelike klagte teen hom ondersoek of hom vervolg voordat die provinsiale tesourie nie eers hul eie ondersoek gedoen het nie. Die regter het dit verwerp en bevind die Valke moet ondeursigtige tenderprosesse ondersoek as deel van misdaadbekamping. Die NVG is ’n onpartydige staatsliggaam wat slegs aan die Grondwet en wetgewing onderwerp is.
Sy betoë was dat die aanklagte soos vervat in PFMA-wetgewing vaag is, maar die regter het dit verwerp omdat hy van meet af nie daarteen beswaar gemaak het nie en die aanklagte teen hom begryp het.
Volgens hom is hy benadeel omdat van die destydse dokumentasie ontbreek en hy nie sy onskuld kan bewys nie. Voorts is hy benadeel omdat die ondersoek en verhoor meer as ’n dekade geduur het en hy nie al die gebeure kan onthou nie. Sy gedurige geheueprobleme in die getuiebank wanneer dit kom by die gebrek aan ondersteunende dokumente wat sy weergawe sou steun, het die regter ook as “gerieflik” opgeval. Hy het ook nie in die verhoor beswaar hierteen gemaak of aangevoer daar word forensies teen hom diskrimineer nie.
Theys kon geensins bewys hoe die lang tydsduur van die ondersoek of verhoor hom benadeel het nie.
Regter Phatsoane het Theys se appèlaansoek teen sy skuldigbevinding en vonnis verwerp deur te bevind sy verhoor was regverdig. Die uitspraak is deur regter Almé Stanton ondersteun.


