Op Maandag 24 Februarie was die opwinding in Riverton groot toe die begrotingsfasiliteit vir infrastruktuur (BFI)-program amptelik bekend gestel is, en die eerste 16 van 1 780 pype besigtig kon word. Elk van die pype weeg nagenoeg vyf ton.

Foto’s: Helena Barnard

Die aflewering van die eerste 16 pype vir die vervanging van die grootmaatpypleiding vanaf die Riverton-watersuiweringsaanleg teen die Vaalrivier tot by die Newton-reservoir in Kimberley, word as ’n betekenisvolle mylpaal beskryf om watersekerheid in die stad te verseker.

Hierdie ingryping op die grootmaatwatervoorsieningstelsel van die Sol Plaatje-munisipaliteit is deel van die Nasionale Tesourie se R2,5 biljoen begrotingsfasiliteit vir infrastruktuur (BFI). Die omvattende BFI-program bestaan uit 35 projekte wat in drie fases oor nagenoeg agt jaar uitgevoer moet word.

Op Maandag 24 Februarie was die opwinding in Riverton groot toe die BFI-program amptelik bekend gestel is, en die eerste 16 van 1 780 pype besigtig kon word.

Dié nuwe pype, met ’n deursnit van 1 200 mm en ‘n pypwanddikte van 9 mm, gaan langs die ou en lekkende 900 mm-pypleiding gelê word. 

Elke pyp weeg nagenoeg vyf ton, en dit gaan op ‘n omheinde area by die watersuiweringsaanleg geberg word totdat die lê daarvan oor enkele maande begin. 

Volgens Thapelo Matlala, munisipale bestuurder, behoort dié spesifieke projek in die volgende 18 maande voltooi te wees.

“Dié pypleiding sal betroubare waterverskaffing vir die volgende 50 tot 70 jaar verseker,” sê hy.

In ’n video-aanbieding het Winston Moyahi, BFI-projekbestuurder, verskeie onlangse verbeteringe by die ou en nuwe watersuiweringsaanlegte, wat onderskeidelik 72 en 51 jaar oud is, uitgelig.

Rikus Rossouw, ingenieur by Bigen Africa, wat sedert verlede jaar by die aanlegte betrokke is en onder meer die filters – ongeveer so groot soos ’n swembad – asook die verhelderingstenks opgeknap en in ’n werkende toestand gekry het, sê die aankoms van die pype is ’n groot geleentheid.

Een van die verhelderingstenks by die nuwe waterverwerkingsaanleg by Riverton. Talle van die tenks, asook die filters, is sedert verlede jaar opgeknap en is nou weer in 'n werkende toestand.
Een van die verhelderingstenks by die nuwe waterverwerkingsaanleg by Riverton. Talle van die tenks, asook die filters, is sedert verlede jaar opgeknap en is nou weer in ‘n werkende toestand.

Foto: Helena Barnard

Vordering is reeds gemaak

Martha Bartlett, burgemeester, sê die aankoms van die eerste pype vir die grootmaattoevoerpypleiding is die begin van die mediumtermyn-ingryping. Vordering is reeds die afgelope maande gemaak in die strewe om 150 megaliter per dag te voorsien, pleks van 100 megaliter.

Vordering is ook reeds gemaak om die watergehalte te verbeter, en om waterverliese te verminder. Verlede jaar April is meer as 14 groot waterlekke op die 900 mm-pypleiding as ’n interim-maatreël herstel.

Martha Bartlett, uitvoerende burgemeester van die Sol Plaatje-munisipaliteit.

Foto: Helena Barnard

Bartlett sê tot op hede is R237 miljoen aan projekte by die twee watersuiweringsaanlegte toegeken. Dit sluit projekte in om die watergehalte te verbeter, en om die elektrisiteitstoevoer by die pompstasies op te gradeer.

Die aflewering van die eerste grootmaatwaterpype dui op die gereeedheid om die BFI-program se mediumtermyn-ingrypingsfase in werking te stel. Die mediumtermyn-ingryping sluit onder meer projekte in om die twee watersuiweringsaanlegte op te knap, die vervanging van die hoofwatertoevoerlyn, stelsels vir waterlek-opsporing en sonale meting.

Die langtermyn-ingryping behels onder meer die oprigting van waterbergingsfasiliteite (by Galeshewe, Roodepan, Carters Ridge en ander), asook verbeterings by die Newton-reservoir. Die Ritchie-watersuiweringsaanleg gaan ook opgeknap word, en die hergebruik van afvalwater word ook in dié fase aangepak.

Sy sê inwoners van Ritchie beleef ernstige watervoorsieningsuitdagings, en ‘n tender van R127 miljoen is vir die opknapping van die aanleg adverteer.  

Van die R1,152 miljard wat aan die mediumtermyn-raamwerk toegewys is, sal R300 miljoen aan plaaslike arbeid, plaaslike aankope en plaaslike klein-, medium- en mikro-ondernemings bestee word.

Tot nou toe is waterverliese weens gebarste pype en stukkende watermeters ‘n frustrasie, en ‘n waterlekbestuurstelsel is ontwikkel. Dit behels ’n digitale Smart Tool-platform waar waterlekke onder meer op ‘n WhatsApp-app aangemeld sal word, en die herstel daarvan word dan digitaal waargeneem. 

Groot werkskeppingsprojek

In sy spreekbeurt het dr. Zamani Saul, premier van die Noord-Kaap, gesê die BFI-program is ’n permanente oplossing vir die waterprobleme in Kimberley wat deur ’n verouderde infrastruktuur wat nie behoorlike onderhou is nie, veroorsaak is.

Dr. Zamani Saul, premier van die Noord-Kaap.

Foto: Facebook/NCPG

“Hierdie program moet in begroting en in tyd afgehandel word,” het hy beklemtoon.

Volgens hom sal ongeveer duisend poste hierdeur geskep word. Die vorige werkskeppingsprojek van dié omvang in Kimberley was die konstruksie van die Sol Plaatje-universiteit (SPU).

Nkaelang Mamapula, voorsitter van die Droogfontein Communal Property Association, sê dié vereniging ondersteun die projek ten volle, en wil graag sien dat die gemeenskap op die langtermyn hieruit baat, en vaardighede ontwikkel.

Nkaelang Mamapula van die Droogfontein Communal Property Association.

Foto: Helena Barnard

“Dinge gebeur in Riverton” te danke aan die projek, sê Dipuo Peters, speaker. Sy het ook gesê “laat die een wat geld van die projek steel, se sak uitbrand.”

Die uitvoer van die projekte sal onvermydelik van tyd tot tyd wateronderbrekings veroorsaak, sê Bartlett, en dat tydige kommunikasie hieroor sal plaasvind.

“Die ingrypings word met ’n aanslag van progressiewe ontwikkeling aangepak,” sê sy.

Ervare leiers in diepkant ingegooi

Tydens die geleentheid het Saul gesê dat hy nog nie oor die onlangse en onverwagse aanstelling van Peters en Bartlett gepraat het nie.

In middel November is wat as ‘n “dramatiese middernagtelike aankondiging” beskryf is, bekend gemaak dat Peters en Bartlett as onderskeidelik die speaker van die Sol Plaatje-munisipaliteit en die uitvoerende burgemeester aangestel is. 

Peters het Nomazizi Shwababa as speaker vervang, en Bartlett die jeugdige Kagisho Sonyoni, wie se aanstelling van die staanspoor omstrede was.

Omdat Peters en Bartlett ervare leiers is met jare se ervaring, is hulle vrywillig aan die diep kant ingegooi om onder meer diensteprobleme in die Sol Plaatje-munisipaliteit te help oplos. Saul sê as die grootste munisipaliteit in die provinsie, moet dienslewering by die Sol Plaatje-munisipaliteit doeltreffend verloop.

“Die kleiner munisipaliteite moet by hulle leer,” sê hy.

Saul het vertel van ‘n voorval waarin hy bewus geword het dat stiptelikheid nou weer ‘n norm begin word het.

“Diegene wat nie in werksure werk nie, of wat laat vir werk opdaag, of vroeg vertrek, pleeg korrupsie.”  

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article