“Om jou stem dik te maak in jou ma se Afrikaans, jóú Afrikaans, jóú dialek en streekstaal. Die taal waarmee jy grootgeword het met sy djy en djou, die klik van die Nama en Khoi, die sabela, die opperste en die nuutgeskepte.”
Dit is die uitnodiging aan poësie-liefhebbers vir bydraes om vir die nuwe Diana Ferrus-prys in aanmerking te kom.
Die prys word aan die beste poësiebydrae toegeken, terwyl die kompetisie beoog om verskillende streekstale, onder meer Nama-Afrikaans, Khoi-Afrikaans, Kaaps en ander dialekte te bevorder.
Die beoordelaars is Churchill Naudé, Hakkiesdraad Hartman, Ryan Pedro en Shirmoney Rhode.
Digter Anmiray Opperman is die fasiliteerder.

Skryf drie oorspronklike gedigte in
Landsburgers en permanente inwoners van Suid-Afrika en Namibië, ook diegene van albei lande wat oorsee woon, kan drie oorspronklike gedigte wat deur hulself geskryf is en waarvan hulle alle regte het, inskryf.
Alle ingediende werke moet oorspronklike en ongepubliseerde werke wees.
Die voorgelegde werk moet binne die afdeling val waarin dit ingedien word en mag nie die voorgeskrewe woordtelling vir daardie afdeling oorskry nie
Die Diana Ferrus-prys bied drie kontantpryse in elke afdeling en vir elke streektaal aan.
Die hoofprys is R2 000, die gedig word in ’n bloemlesing publiseer en ’n eerbewys word toegeken, asook ’n publikasiekontrak.
Die naaswenner ontvang R1 000, die gedig word gepubliseer en ’n sertifikaat word toegeken.
Die skrywer in die derde plek ontvang R500, die gedig word gepubliseer en ’n sertifikaat word toegeken.
Daarbenewens sal die Diana Ferrus-prys blootstelling gee aan die wenners en hul werk op een of meer van sy platforms.
Deur in te skryf, stem deelnemers in om te voldoen aan die kompetisiereëls wat na goeddunke deur die Diana Ferrus-prys interpreteer en toegepas word.
- Deelname aan die kompetisie, wat reeds oop is vir inskrywings, is gratis.
- Die einddatum van die kompetisie is 23:59 op 5 Januarie 2025.
Vir meer inligting hieroor besoek Diana-Ferrus-prys.





