Ontevredenheid heers oor ’n besluit van die Dawid Kruiper-munisipaliteit in Upington om geld wat vir die herstel en instandhouding van sy gehawende strate gebruik moet word, aan te wend om die Mxolisi Dicky Jacobs-stadion vir sokkerwedstryde op te knap.

“Ons is nie teen die opknappings gekant nie. Ons loop oor van trots omdat Upington City vir Upington in ’n hoër liga sal verteenwoordig. Ons stem saam met die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging (Safa) dat opknappings nodig is en sien uit na die nuwe gerief vir die jeug.

“Ons is egter sterk daarteen gekant dat die munisipaliteit beoog om munisipale geld uit die kapitaalbegroting hiervoor te gebruik,” sê Flip van der Steen, DA-sweep van die munisipaliteit.

Hennie Roux, VF Plus-raadslid, is dit met Van der Steen eens en sê die geld is reeds opsygesit vir die aankoop van drie watertenkwaens en masjinerie vir die seël en herstel van strate.

“Ons kan nie bekostig dat dienste wat noodsaaklik vir gemeenskappe se gesondheid en veiligheid is in die gedrang kom nie,” sê Van der Steen. Hy sê die munisipaliteit het 18 maande lank geweet dat opknappings (aan die stadion) benodig word, maar het versuim om die nodige geld daarvoor te bewillig.

“Die beplande opknappings word nie in die munisipale ontwikkelingsplan ingesluit nie en daar was nie voldoende openbare deelname nie.”

Van der Steen sê dit sal ’n oortreding van die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Finansiële Bestuur wees om met die opknappings voort te gaan.

“Die munisipaliteit het dié probleem geskep. Nou wil hy ’n selfgemaakte probleem oplos met geld wat hy nie het nie en op ’n manier wat nie wettig is nie.”
Philip van der Steen

Van der Steen het op ’n raads­vergadering gesê die munisipaliteit moet belanghebbendes op provinsiale en na­sionale vlak nader om die geld te bekom sodat die sokkerspan die soort stadion kan kry wat hy verdien.

Roux sê die geld moes vir padinstandhouding gebruik word.

“Op ’n raadsvergadering Vrydag is daar voorgestel dat R6,2 miljoen vir die herstel en opknapping van die stadion gebruik word. Hierdie geld is begroot vir die aankoop van watertenkwaens en toerusting vir pad-rehabilitasie.”

“Die stadion het onder die wanbestuur van die ANC-munisi­paliteit tot ’n haglike toestand verval en dit word daagliks verder vandaliseer,” sê Roux.

“Die ANC-beheerde Dawid Kruiper-munisipaliteit sukkel juis daagliks om die basiese dienste aan gemeenskappe te lewer.”

Die munisipaliteit het teen druktyd nog nie op navrae hieroor reageer nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article