Ontblote stormwaterslote en mangate sonder deksels is ’n algemene gesig in Kimberley, soos hierdie een reg voor die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal in Du Toitspanweg. Bedekkings van stormwater­slote word telkens deur swaarvoertuie beskadig, of word geskuif omdat rommel die vloei van water verhoed. Metaal­mangat­deksels word gesteel. Besoek die Facebook-blad Noordkaap Koerant vir nog foto’s soos hierdie een, en stuur soort­gelyke foto’s vanuit jou dorp na noordkaap@media24.com.

Foto: Helena Barnard

In sy inhuldigingstoespraak as premier van die Noord-Kaap het dr. Zamani Saul in Mei 2019 sy visie van ’n moderne, groeiende en suksesvolle provinsie voorgehou.

In die toespraak het hy gesê die visie sluit onder meer in dat die politieke leiers van die provinsie aandag gee aan detail, dat die visie op praktiese maniere hoop vir diegene gee wat nie meer hoop het nie, en dat ekonomiese investering in die provinsie moet plaasvind, en veral in Kimberley.

“Ek kan nie toelaat dat die hoofstad van die provinsie aanhou agteruitgaan en versleg nie. Kimberley moet groei en ontwikkel en ‘n sneller vir groei vir die res van die provinsie wees.

“Ons moet Kimberley ontwikkel om die middelpunt van die moderne, groeiende en suksesvolle provinsie te wees.  

“Dit begin alles met die skoonmaak van ons stad en die aanmoediging vir mense om nie te mors nie.”

Saul het voorts gesê dat samesprekings reeds met die destydse burgemeester, komitee en die uitvoerende bestuur van die Sol Plaatje-munisipaliteit aan die gang is om na die ontwikkeling van die stad te kyk.

Hy het ook gesê dat munisipaliteite in die provinsie oor die jare heen as die swakste skakel in die ketting van ontwikkeling en sosiale transformasie bewys is.

  • Hoe beleef jy dienslewering in die Noord-Kaapse dorp waar jy bly?
  • In watter mate dra inwoners self by om sake agteruit te laat gaan?
  • Wat het sedert 2019 versleg?
  • Wat het sedert 2019 verbeter?
  • Wat is volgens jou die grootste struikelblok in die pad van ‘n moderne, groeiende en suksesvolle provinsie?
  • Stuur jou mening en foto’s na noordkaap@media24.com.

 Na aanleiding van die berig in die NoordkaapBulletin van 23 Februarie oor kragkabels van lamppale wat ontbloot is, en omgeryde lamppale wat nie herstel word nie, het ‘n leser gevra hoe dit moontlik is dat die premier kan toelaat dat dit wat eens ‘n stad was – en nou ‘n vullishoop – so agteruit kan gaan.

“Daar is mense wat van netheid hou,” skryf die leser.

 

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article