Die watermassa in Ronaldsvlei oorkant Greenpoint in Kimberley groei daagliks.

Foto: Charné Kemp

Meer as twee jaar nadat ’n watermassa ’n deel van die spoorlyn tussen Kimberley en Bloemfontein, net buite die Kimberley-lughawegebied in Ronaldsvlei, oorvloei het, is daar weer ’n watermassa wat weens lekkende waterpype al hoe groter raak.

Die watermassa strek van die brûe oor die spoorlyn by Greenpoint en kruip teen ’n grondpad in die veld langs al hoe nader na die lughawe. Die padoppervlak word deur die vloeiende water weggevreet, en huishoudelike rommel en bourommel is oral in die veld gestrooi. Beeste en bokke wei tussen plastieksakke wat rondwaai.

Die watermassa in Ronaldsvlei oorkant Greenpoint in Kimberley groei daagliks.

Destyds toe die watermassa ontstaan het, het Transnet en die Kimberley-lughawe hul kommer oor geofisiese skade, asook die bedreiging wat watervoëls vir vliegtuie inhou, uitgespreek.

Dié bonkige voëls, wat ongelukke kan veroorsaak indien hulle teen vliegtuie bots of in enjins beland, versamel op die water in die naderingsbaan van vliegtuie wat land en opstyg, het die destydse bestuurder van die lughawe gesê.

Gevaar van watervoëls
Watervoëls is uiters gevaarlik omdat hulle groot is en vinnig opvlieg wanneer hulle versteur word. Die veiligheid van passasiers en bemanning is op die spel.

Die situasie hou ook maatskaplike, ekonomiese, veiligheid- en regsgevolge vir die lugvaartbedryf, grondeienaars en die munisipaliteit in.

Die Kimberley-lughawe sê hy is steeds besorg oor moontlike vliegongelukke weens watervoëls wat vermeerder op opgedamde water wat uit lekkende munisipale pype vloei.

Gopolang Peme, die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (ACSA) se senior kommunikasiebestuurder, sê hulle is in gesprek met die Sol Plaatje-munisipaliteit om die probleem op te los.

“Dit is ’n bekommernis vir al die betrokkenes.

“Die watermassa is naby die lughawe en verhoog die voorkoms van watervoëls in die omgewing. Dit verhoog die risiko dat voëls oor die lughawe kan vlieg en met vertrekkende vliegtuie, of dié wat neerstryk, bots.

“Ons meld die probleme aan wanneer die voorkom, en kan nie sê hoeveel keer daar oor die juiste probleem gepraat is nie. Ons werk goed saam met die munisipaliteit, en voorheen is probleme bevredigend opgelos.”

Thoko Riet, munisipale woordvoerder, sê die watermassa word deur ’n lekkende 315 mm-staalpyp veroorsaak wat water na die Diskobolos-weermagbasis en die lughawe-gebied gelei.

Riet het gesê dat dit in die munisipaliteit se beplanning was om die pyp Woensdag (19/07) te herstel, aangesien die herstelspan nog by Platfontein besig was.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article