Nog ’n jaar het ten einde gespoed. Dit is asof die afgelope paar jare meer uitdagings het en vinniger ten einde loop.
Vir diegene wat ’n langverwagte vakansie binnegaan, is dit uitstekende nuus.
Vir diegene met gastehuise en ander vakansie-akkommodasie is dit ook goeie nuus.
Met die ekonomie se strop wat net stywer getrek word, gaan al hoe minder mense met vakansie. Indien hulle wel gaan, is dit vir ’n korter tydperk as voorheen.
Die jaar wat verby is, het – soos elke jaar – sy hoogte- en laagtepunte.
Die natuur het sy koers gehou.
Die son kom op en die son gaan onder, maak nie saak van hoe jou dag verloop nie.
Nuwe vriendskappe is gesmee.
Daar is afskeid geneem.
Daar is van werk verander.
Planne om beter te kan oorleef is beraam.
Kleuters het hulle in graad een bevind. Matrikulante is klaar met hul skoolloopbaan.
Die een jaar vloei in die volgende jaar wat weer in die volgende jaar vloei.
En so gaan ’n mens se lewe onverwags verby.
As jy jonk is, is daar nog baie tyd en baie wat jy wil doen. En skielik besef jy, soos wat die jare verbygegaan het, het jou lewe saam met dit verbygegaan. En jy sit met jou lysie waarop daar nog ’n klomp dinge is wat jy wou doen.
Of jy die pad na ’n langverwagte vakansie aandurf en of jy tuisbly en of jy werk – geniet dit en wees veilig.


