Die Eiland-vakansieoord in Upington

Die Eiland-vakansieoord in Upington soos dit nou lyk.

Die DA het die Dawid Kruiper-munisipaliteit in Upington uitgedaag om sakevoorstelle van die publiek te verkry om die vervalle Die Eiland, eens een van die land se spog munisipale oorde, te huur en reg te ruk.

Dit volg op kommer dat die kontrak om Die Eiland te verhuur aan ’n “hoëprofiel kader” gegee kan word.

Dit volg op ’n herrie waarin die munisipaliteit Sakkie se Arkie, die immergewilde en enigste oorblywende toeriste-attraksie op munisipale terrein langs die rivier, wil uitsit.

Die eienaar Sakkie Spangenberg huur die stuk grond reeds jare van die munisipaliteit. Hy het die hof vroeër genader toe die munisipaliteit dit ná ’n tenderproses aan iemand anders verhuur het. Die hof het Spangenberg met koste gelyk gegee dat die verkeerde tenderproses gevolg is.

Volgens Spangenberg wil hy steeds die grond huur, maar die munisipaliteit “wil niks van my weet nie. Ek weet nie wat ek verkeerd doen nie. Ek het ook lankal voorstelle gemaak om ook Die Eiland te huur en 50% van die wins aan die munisipaliteit te gee. Hulle erken nie eens ontvangs van my voorstelle nie.”

Spangenberg sê die munisipaliteit het toegelaat dat Die Eiland, Rosepark en ander munisipale piekniekterreine wat ’n inkomste meebring en werk verskaf, verval.

Flip van der Steen, DA-sweep, sê die aansoekproses om Die Eiland te huur moet oop vir almal wees.

“Die raad het verlede Donderdag die onus om ’n huurder vir die oord te vind, uitsluitlik op die administrasie, die munisipale bestuurder en die burgemeester geplaas. Dit baan die weg vir potensiële vooroordeel in die toekenning van die huurkontrak. Dit dra by tot ons kommer dat die oord opsy gesit is vir ’n hoëprofiel-kader, wat voorheen belangstelling getoon het om die oord te benut.”

Nadat die oord tydens die Covid-19-pandemie as kwarantynfasiliteit gedien het, is dit nooit weer gebruik nie.

“Ongeag sekuriteitswagte wat toegang tot die oord beheer, word dit steeds gevandaliseer. Die oord word stuks-stuks weggedra. Televisies, lugversorgers en meer is van sommige eenhede gestroop. Dit oord word verder nie in stand gehou nie en die waarde daarvan is besig om te krimp.

“ ’n Vorige voorstel om die oord in werking te stel, is by ’n munisipale werksessie voorgelê en drie keer op die raadsagenda vir bespreking geplaas, maar is voortdurend uitgestel. As dit die munisipaliteit se uitsluitlike doel was om die oord sy posisie as ’n ster-toeriste-aantreklikheid te laat herwin, kon dit nou al bereik gewees het.”

Die DA het op verlede week se raadsvergadering ’n voorstel gemaak dat die aansoekproses vir die publiek oopgestel word.

“Ons sal verder ons teenkanting en kommer op skrif by die Speaker indien. Die besluit is ongehoord en kan vergelyk word met die vernietigende proses van kaderontplooiing. Die proses moet regverdig en deursigtig wees, en die beste voorstel moet wen, nie die voorstel wat aan die mees lojale kader behoort nie.”

Van der Steen meen dis in die beste belang van Upington-inwoners dat politieke agendas wat werkskepping smoor en die herbou van die handelsmerk en besigheid van Die Eiland belemmer, nie meer geduld word nie.

Patrick Williams, munisipale woordvoerder, sê die raad het op 3 November by ’n spesiale raadsvergadering besluit om Die Eiland op ’n langtermyn basis te verhuur.

“Dit kom ná deeglike ondersoek en oorweging,” sê hy. “Die finale besluit oor die huurder sal eersdaags geneem word. Die redes vir die besluit is dat die nasionale tesourie dit duidelik gestel het dat die hoofdoelwit van plaaslike owerhede is om te verseker dat basiese dienste aan gemeenskappe gelewer word.

“Munisipaliteite moet dienste soos elektrisiteit, water, sanitasie en vullisverwydering as die hoogste prioriteite hanteer. Die verantwoordelikheid om Die Eiland te bestuur moet opgeweeg word teenoor die behoefte aan noodsaaklike dienste aan die gemeenskap.

“Beperkte geldelike hulpbronne moet jaarliks in die Eiland-vakansieoord belê word. Dit kan elders gebruik word om die munisipaliteit se kernfunksies te vervul. Die Eiland sal nie verlore gaan nie en sal steeds as ’n vakansieoord deur die nuwe huurder bedryf word.”

  • Intussen is dit op die Facebook-blad Upington Concerned Citizens aangekondig dat daar ’n samekoms ter ondersteuning van Sakkie se Arkie sal wees, en ook teen die agteruitgang van die openbare oorde en swembaddens wat Die Eiland, Reitzpark, Blou Dakke en Bellevue insluit. Volgens die plasing sal gemeenskapslede, politieke partye en ander organisasies op Donderdag 17 November om omstreeks 09:00 by Sakkie se Arkie byeenkom, vanwaar daar na die Dawid Kruiper-munisipaliteit gestap sal word om ’n memorandum te oorhandig. “Die gemeenskap is diep seergemaak. Genoeg is genoeg. Die gemeenskap het lank genoeg stil gebly,” lui die plasing.

Die Eiland-vakansie-oord in Upington wat voorheen ’n gewilde vakansie- en naweekbestemming was, is nou vervalle.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article