Hoe weet ‘n mens wanneer die woorde: “Ek wil nie meer lewe nie!” uit jou kind se mond rede tot kommer is of net tipiese tienergedrag?
Kinders so jonk as ses jaar spreek soms selfdoodgedagtes uit.
Maar beteken dit jou kind gaan tot die daad oorgaan?
Is jou kind werklik depressief?
Of is sy optrede bloot ’n soeke na hulp?
Dui die gereelde klagtes oor maag- of hoofpyn op werklike ongesteldheid of siekte, of is dit psigosomatiese simptome gekoppel aan depressie?
Wat is die moontlike oorsake dat jou kind of tiener aan depressie ly?
Volgens statistiek deur die Suid-Afrikaanse Depressie-en-Angsgroep (Sadag) is 9% van sterftes onder tieners weens selfdood.
Volgens die sielkundige Dalene du Plessis het “kinders so jonk as sewe jaar al hul eie lewe geneem”.
So ook toon van die jongste navorsing in Amerika dat kinders tussen 10 en 12 jaar se selfdoodpogings vanaf 2000 tot 2020 meer as vervierdubbel het.
Afrikaans.com het dieper gedelf en die volgende saamgestel:
Moontlike oorsake van depressie
dit is dikwels oorerflik;
dit word veroorsaak deur ’n chemiese wanbalans in die brein;
dit is ’n trauma-respons;
dit word veroorsaak deur druk van ouers, onderwysers en medeleerlinge;
gebrek aan ondersteuning van ouers.
omgewingsfaktore, soos stres, spanning by die huis, verlies (aan ’n troeteldier of geliefde familielid of ‘n beste maat wat wegtrek), ouers wat skei, die tiener word afgesê;
die kind word geboelie;
sukkel om aan te pas en raak dan depressief;
leer- en leesprobleme kan tot depressie lei, want die kind kom agter hy presteer nie so goed soos sy maats nie; of
kinders wat sukkel met ander geestesgesondheidkwessies, soos aandaggebrek-hiperaktiwiteitsteuring (AGHS), is soms meer vatbaar vir depressie.
Waarna om op te let
verandering in gedrag;
jou kind kla gereeld oor hoof- of maagpyn en dit word nie juis beter met behandeling nie. Dit kan dus psigosomaties wees. Onthou egter: die pyn is werklik – die oorsaak is net nie altyd iets fisiek nie;
jou kind is uiters geïrriteerd, kry woedebuie en tree aggressief op;
jou kind kan nie sy emosies reguleer nie. Byvoorbeeld: Hy kan nie ophou huil nie, gooi goed rond, slaan goed, skree op ander, is oordrewe hartseer en meer;
jou kind onttrek, wil nie meer uitgaan en sosialiseer nie en is dikwels huilerig;
slaappatrone word geraak – slaap baie of ongereeld;
eetprobleme – eet te min of te veel;
skoolwerk gaan agteruit;
onderwysers maak dalk ’n opmerking oor die kind se gedrag wat nie by die huis merkbaar is nie; of
jou kind se selfbeeld is nie na wense nie – hy of sy maak negatiewe aanmerkings oor hom- of haarself.
Hoe behandel of hanteer ‘n mens depressie by jou kind of tiener?
Ouers en onderwysers moet bedag wees op die kind se emosionele welstand en dadelik optree as hulle vermoed alles is nie pluis nie. Kinders is geneig om soms uitlatings te maak, soos “Ek wil nie langer leef nie!”, en so meer, maar dit beteken nie noodwendig hulle oorweeg selfdood nie. As jy egter enigsins twyfel of daar is tekens, tree op en raadpleeg ’n sielkundige.
Oorweeg psigoterapie (praat-terapie) – in gesinsverband, maar ook afsonderlik. Dit is moeilik vir veral jong kinders om hul gevoelens in woorde uit te druk en daarom is die bystand en kundigheid van ’n terapeut van onskatbare waarde.
As jou kind gediagnoseer is, stel die skool of onderwysers in kennis sodat hulle met empatie by die skool hanteer word.
Kommunikeer en luister. Jou kind moet die vrymoedigheid hê om oor enige iets met jou te gesels. Dit is daarom noodsaaklik om nie veroordelend te wees nie en van jongs af geleenthede te skep om met jou kind te gesels.
Gee erkenning aan jou kind se emosies. Dit is nie sommer net kinder- of tienertwak nie.
Waak teen skuldgevoelens by die kind. Jou kind kan maklik skuldig voel oor sy toestand en dit kan lei tot dieper depressie. Moet dus nie druk op die kind sit om homself uit die situasie te dink nie of sy gesindheid te verander nie.
As daar konflik by die huis is, tree onmiddellik op en kry oplossings.
Onvoorwaardelike liefde en ondersteuning is uiters noodsaaklik.
Stel steeds duidelike grense. Kinders wat binne grense moet optree, voel veiliger, want hulle weet wat om te verwag as hulle nie by die reëls hou nie.
Maak seker die terapeut en jou kind vind aanklank by mekaar. As die kind nie met die terapeut of sielkundige klaarkom nie of gemaklik in hul teenwoordigheid voel nie, moet jy onmiddellik iemand anders kry, want die vertrouensverhouding tussen die pasiënt en die terapeut is belangrik vir suksesvolle behandeling.
Gereelde ontspanning en oefening. Moedig jou kind aan om steeds stokperdjies te beoefen en gereeld oefening te doen. Daardie goedvoelhormone doen wondere vir die gemoed.
Medikasie of nie?
Die sielkundige of psigiater sal daaroor besluit. Indien moontlik, probeer ’n mens dit eers sonder medikasie behandel. Tog is dit dikwels nodig om medikasie te gebruik en dit is nie noodwendig ’n slegte ding nie, en kan jou kind werklik help. Omdat dit ’n chemiese wanbalans is, is medikasie saam met terapie dikwels aangewese en maak dit die behandeling en terapie makliker en dikwels vinniger.
Wat jy moet weet
Depressie is ’n kliniese toestand gekenmerk deur negatiewe verandering van gemoedservaring.
Depressie word dikwels nie raakgesien nie en nie behandel nie.
Dit is nie maklik om kinders te diagnoseer nie, maar gaan dikwels gepaard met ongelukkigheid en dan oor- of onderaktiwiteit, gedragsprobleme en psigosomatiese probleme.
Indien jou kind as depressief gediagnoseer is, en behandeling ontvang, is dit belangrik om elke episode en voorval te behandel.
’n Depressie-siklus duur ongeveer 18 maande, waarna die kind of tiener met die regte behandeling gewoonlik beter begin voel.
Die langtermyngevolge van depressie is baie werklik en ’n kind wat nie behandel word nie sal langer depressief bly
Ten slotte
Depressie is soos om diabetes te hê – die insulientekort moet behandel word. So ook moet die depressiewe persoon se wanbalans behandel word.
Die depressiewe kind of tiener kan hom nie self regruk of sy denkpatrone meteens verander nie. Depressie verg die regte behandeling, deur kundiges, met die nodige ondersteuning, empatie en begrip.
– Afrikaans.com





